Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 1:9-20 Die Boodskap (DB)

9. Deur God se goedheid het Aspenas baie respek vir Daniël gehad,

10. maar hy het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het besluit wat julle moet eet en drink. As jy nie so goed soos die ander jongmense lyk nie, is ek in groot moeilikheid. Hy mag selfs besluit om my dood te maak.”

11. Daniël het toe vir die amptenaar wat deur Aspenas aangestel is om na hom en sy drie vriende om te sien, gesê:

12. “Gee ons tien dae kans om onsself te bewys. Laat ons toe om net water te drink en groente te eet.

13. Vergelyk ons dan met die ander jongmense wat die kos eet wat die koning voorgeskryf het. Besluit dan op grond van wat u sien of ons daarna met ons eie dieet kan aanhou of nie.”

14. Die amptenaar het toe ingestem dat hulle dit vir tien dae kon probeer.

15. Aan die einde van die tien dae het Daniël en sy vriende baie gesonder en sterker gelyk as al die ander jongmense wat die koning se kos geëet het.

16. Van toe af het die amptenaar hulle toegelaat om groente te eet in plaas van die ryk kosse en wyn wat die koning voorgeskryf het.

17. Deur God se goedheid was hierdie vier jongmans besonder slim. Hulle het goeie kennis van die belangrike boeke van daardie tyd gehad en baie wysheid. Boonop het Daniël die gawe gehad om visioene en drome uit te lê.

18. Aan die einde van die driejaarperiode wat die koning vasgestel het, het Aspenas al die jongmense na koning Nebukadnesar toe gevat vir ’n onderhoud.

19. Hy het met hulle almal gepraat, maar nie een van die ander het hom so beïndruk soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Daarom het hy hulle as raadgewers in sy paleis aangestel.

20. Die koning het gou agtergekom as dit by sake kom wat wysheid of ’n goeie oordeel vereis, was Daniël en sy vriende se raad baie beter as dié van enige van sy towenaars en fortuinvertellers.

Lees volledige hoofstuk Daniël 1