Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 2:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Die Here sê: “Van al die baie sondes wat Moab al gedoen het, is daar een wat Ek altyd teen hom sal hou. Hy het die koning van Edom se eer vernietig. Hy het sy geraamte gevat en dit tot as gaan verbrand.

2. Ek sal oorlog teen Moab laat uitbreek. Sy skuilplekke in Kerijot sal tot op die grond afgebrand word. Moab se mense sal in die oorlog omkom. Hulle sal inmekaarstort wanneer die trompet geblaas word wat die oorlog laat begin.

3. Ek sal Moab se koning uitwis. Ek sal al sy leiers saam met hom laat doodmaak.” So sê die Here oor Moab.

4. Die Here sê: “Van al Juda se baie oortredings is daar een spesifiek wat Ek nooit sal oorsien nie. Hulle het die wet van die Here verwerp. Hulle steur hulle glad nie aan die reëls van die Here nie. Dieselfde gode van leuens en bedrog waaragter hulle voorouers aangeloop het, het hulle laat ontspoor.

5. Ek sal ’n vuur wat alles verteer teen Juda aan die brand steek. Dit sal die skuilplekke in Jerusalem verwoes.”

6. Die Here sê: “Die spesifieke oortreding waarvoor Ek Israel nooit sal vergewe nie, is dat hulle eerlike mense vir geld verkoop. Hulle verkoop die arm mense wat nie hulle skuld kan betaal nie vir so min as die prys van ’n paar sandale.

7. Hulle trap dié wat hulpeloos is, nog verder in die grond in. Hulle is onregverdig met dié wat alreeds swaarkry. Hulle bring my groot Naam in die skande. Pa en seun slaap by dieselfde meisie.

8. Hulle lê by die altaar waar daar geoffer word op klere wat hulle van arm mense gevat het. By die Here se tempel drink hulle die wyn waarmee ander mense hulle boete moes betaal.

9. “Dit was Ek wat die Amoriete uit die land uitgewis het voordat my volk hiernatoe gekom het. Die Amoriete was lank en regop soos sederbome. Hulle was so sterk soos akkerbome. Maar Ek het hulle met wortel en tak uitgeroei.

10. “Dit was Ek wat julle uit Egipteland laat wegtrek het. Ek het julle 40 jaar lank in die woestyn laat rondtrek. Ek het vir julle die land van die Amoriete gegee.

11. “Ek het julle seuns geroep om my boodskap te bring. Ek het jongmans geroep om hulle hele lewe as nasireërs aan my te wy. Julle, Israeliete, moet nou vir my sê as dit nie so is nie. Julle moet sê as dit nie is wat Ek alles vir julle gedoen het nie,” sê die Here.

Lees volledige hoofstuk Amos 2