Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 6:11-16 Die Boodskap (DB)

11. Die ark van die Here het vir drie maande in Obed-Edom se huis gestaan. Die Here was baie goed vir Obed-Edom en sy hele familie.

12. Die mense het vir koning Dawid gaan vertel dat die Here goed is vir Obed-Edom se familie en dat dit so goed gaan met alles wat hy het omdat die ark van God by hom is. Dawid het toe die ark van God by Obed-Edom se huis laat haal. Dit was ’n vrolike optog:

13. toe die mense wat die kis dra ses treë geloop het, het Dawid ’n bul en ’n vet kalf vir die Here geslag.

14. Daarna het hy gedans so al wat hy kon. Hy het net ’n priesterrokkie aangehad.

15. So het Dawid en al die leiers van Israel die ark van die Here Jerusalem toe gevat. Hulle was bly en het geskree en op ramshorings geblaas.

16. Toe die ark in die Stad van Dawid inkom, het Mikal, Saul se dogter, deur die venster gekyk en gesien hoe bokspring en dans die koning daar by die ark van die Here. Sy het al haar respek vir hom verloor.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 6