Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 21:17-22 Die Boodskap (DB)

17. Maar Abisai, Seruja se seun, het Dawid gaan help en die Filistyn platgeslaan en doodgesteek. Daarna het Dawid se manne hom laat sweer dat hy nooit weer saam met hulle sal gaan veg nie. Hulle was bang hy kom iets oor en dit sou ’n donker dag wees vir Israel.

18. Daarna was daar nog ’n geveg teen die Filistyne in Gob. In dié geveg het Sibbekai wat van Gusa af gekom het, ook so ’n groot man doodgemaak. Die man se naam was Saf.

19. In nóg ’n geveg teen die Filistyne in Gob het Elganan (hy was Jaïr, een van die wewers in Betlehem, se seun) vir Goliat wat van Gat af gekom het, doodgemaak. Die handvatsel van Goliat se spies het gelyk soos die balk waaraan die mense wat weef, hulle wol hang.

20. In ’n ander geveg in Gat was daar ’n baie lang man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet. Hy het, met ander woorde, twaalf vingers en twaalf tone gehad. Hy was ook een van daardie groot mense, die Refaïete.

21. Hy het die Israeliete uitgetart, maar Jonatan, Dawid se broer Samma se seun, het hom doodgemaak.

22. Hierdie vier groot Filistyne het almal uit Gat gekom. Hulle was almal Refaïete wat in die gevegte teen Dawid en sy manne dood is.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 21