Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 20:11-22 Die Boodskap (DB)

11. Een van Joab se manne het by Amasa gaan staan en geskree: “As julle van Joab hou en vir Dawid is, volg Joab!”

12. Amasa het in die middel van die pad in ’n plas bloed gelê en krul van die pyn. Toe die man sien al die manskappe gaan by Amasa staan, het hy hom uit die pad gesleep die veld in. Toe hy sien almal gaan staan nog om te kyk, het hy hom met klere toegegooi.

13. Daarna het al die manskappe agter Joab aangegaan om vir Seba, seun van Bikri, te gaan soek.

14. Joab het by al die stamme van Israel gesoek tot hy Seba in Abel (dis nou Bet-Maäka) gekry het. Al die Beriete het bymekaargekom en ook saam met Joab gegaan.

15. Hulle het Seba in Abel-Bet-Maäka vasgekeer. Hulle het ’n skuins wal teen die voormuur van die stad gepak en so kon al die soldate by die groot muur om die stad kom. Hulle het teen die muur gestamp om dit te laat val.

16. ’n Slim vrou het bo van die muur af geskree: “Haai, hoor hierso! Sê asseblief vir Joab hy moet hiernatoe kom! Ek wil met hom praat!”

17. Joab het nader gegaan en die vrou het vir hom gevra: “Is u Joab?”“Ja,” antwoord Joab.“Kan ek maar vir u iets sê?” vra sy.“Ja, ek luister,” sê hy.

18. Die vrou sê toe: “Daar was ’n ou spreekwoord wat gesê het: ‘As jy regtig probleme het, sal hulle dit vir jou in Abel oplos.’

19. Ons is bekend as vredeliewende, getroue Israeliete. Nou wil u ’n stad wat ’n voorbeeld is in Israel se mense doodmaak. Hoekom wil u ’n plek vernietig wat aan die Here behoort?”

20. “Nee, nooit!” antwoord Joab. “Ek is nie daarop uit om te vernietig en te verwoes nie!

21. Dís nie my plan nie! Maar hier is iemand by julle wat teen koning Dawid in opstand is. Hy kom van die Efraimberge af en sy naam is Seba, seun van Bikri. As julle hóm net vir my gee, dan los ek die stad uit.”Die vrou sê vir Joab: “U kan seker wees sy kop sal vir u van die muur afgegooi word.”

22. Die vrou het die mense in die stad oortuig en hulle het Seba se kop afgekap en dit vir Joab gegooi. Joab het op ’n ramshoring geblaas en sy manskappe het sommer reguit huis toe gegaan. Joab self is terug na die koning toe in Jerusalem.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 20