Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:8-18 Die Boodskap (DB)

8. Die koning het opgestaan en by die ingang van die stad gaan sit. Toe die manskappe hoor dat die koning daar by die ingang is, het almal soos gewoonlik voor hom verbygestap wanneer hulle gewen het.Nadat die soldate van die Israeliete na hulle huise toe gevlug het,

9. het daar ’n groot stryery onder al die Israeliete begin. Die mense het vir die leiers gesê: “Die koning wat ons gehelp het teen ons vyande, ja, dié een wat ons vrygemaak het van die Filistyne, het uit die land uit gevlug vir Absalom.

10. Maar Absalom, wat ons koning gemaak het oor ons, is dood in die oorlog. Hoekom sê julle nou niks? Hoekom bring julle nie die koning terug nie?”

11. Koning Dawid het daarvan gehoor. Hy laat weet toe vir Sadok en Abjatar: “Praat ’n bietjie met die leiers van Juda in die suide en vra vir hulle hoekom hulle die koning nie eerste terugvat na sy paleis toe nie. Sê vir hulle die koning het gehoor die Israeliete in die Noorde wil hom terugvat.

12. Sê vir hulle ons is broers, ons is eie bloedfamilie; hoekom is hulle dan so stadig om die koning terug te vat?

13. En sê vir Amasa ons is ook mos naby familie en ek sweer vir hom voor God dat hy so lank ek lewe, in Joab se plek die hoofgeneraal gaan wees.”

14. So het Dawid die Judeërs almal omgepraat en hulle het vir hom laat weet: “Kom terug saam met al u manskappe.”

15. Die koning het teruggegaan. Toe hy by die Jordaanrivier kom, was die mense van Juda al by Gilgal om hom te verwelkom en hom oor die rivier te help.

16. Simeï, Gera se seun, daardie Benjaminiet wat in Bagurim gebly het, was vreeslik angstig om die koning te verwelkom en het saam met die mense van Juda afgegaan rivier toe.

17. Daar was ’n klomp soldate van die stam van Benjamin by hom, en ook Siba, die man wat by Saul in die paleis gewerk het, met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle was voor die koning by die rivier.

18. Hulle het deur die drif gegaan om die koning se gesin oor die rivier te help en enigiets te doen wat die koning wou hê. Toe Simeï, Gera se seun, deur die Jordaanrivier is, val hy voor die koning op sy knieë

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19