Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 17:10-17 Die Boodskap (DB)

10. Dan sal selfs die dapper manne wat vir g’n duiwel stuit nie, se moed hulle begewe, want al die Israeliete weet dat u pa ’n vegter is en dat daar dapper manne by hom is.

11. “My plan sal wees om eers al die Israeliete wat kan veg, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide, bymekaar te maak. Maak soveel manne bymekaar as wat daar sandkorrels op die seestrand is. Gaan veg u dan self saam met hulle.

12. Dan kan ons hom op enige plek aanval. Ons sal op hom toesak soos ’n bui reën op ’n land. Wegkomkans sal daar nie vir hom of enige van die manne by hom wees nie.

13. En as hy in ’n stad met mure om is, bring al die Israeliete toue en ons sleep daardie hele stad in die vallei in. Van daardie stad sal daar nie een klip op die ander oorbly nie.”

14. Absalom en al die manne van Israel het gesê Gusai die Erekiet se plan is beter as Agitofel s’n. Dit was eintlik maar die Here wat besluit het om Agitofel se goeie plan in die wiele te ry, want Hy wou hê ’n ramp moet Absalom tref.

15. Gusai het vir Sadok en Abjatar, die twee priesters, gaan sê: “Dit is die raad wat Agitofel vir Absalom en die leiers van Israel gegee het en dit is die raad wat ek gegee het.

16. Laat weet dadelik vir Dawid hy moenie vannag by die deurgaanplekke in die Jordaanvallei slaap nie. Hy moet deur die rivier gaan, anders is dit klaarpraat met die koning en die mense by hom.”

17. Jonatan en Agimaäs het by Rogelfontein gewag, want niemand moes hulle in die stad sien nie. ’n Slavin sou vir hulle die boodskap bring, en hulle sou dit dan weer vir koning Dawid vat.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 17