Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 14:14-23 Die Boodskap (DB)

14. “Ons sal almal eendag doodgaan. ’n Mens kan iemand wat dood is nie weer terugbring nie. Dis soos wanneer ’n mens water op die grond uitgooi; jy kan dit nie weer terugkry nie. God vergewe nie sommer moord nie, maar Hy wil tog hê dat iemand wat ’n balling is, weer na Hom en sy volk moet terugkom.

15. “Ek het dit gewaag om met my koning hieroor te kom praat. Omdat die mense my bang maak, het ek gedink: ‘Ek sal met die koning gaan praat. Miskien sal hy doen wat hierdie nederige vrou vir hom vra.

16. Miskien sal die koning luister en hierdie vrou help teen die man wat my en my seun saam wil afkry van die grond af wat God vir ons gegee het.’

17. “Ek het ook gedink: ‘Die uitspraak wat my koning gaan gee, sal die saak oplos, want my koning is soos ’n engel uit die hemel wanneer hy ’n saak moet beoordeel.’ “Dis al wat ek wou sê. Mag die Here u God u help.”

18. Die koning sê toe vir die vrou: “Ek wil vir jou iets vra, maar jy moet my baie eerlik antwoord.”“Vra maar, U Majesteit,” sê die vrou.

19. “Het Joab iets hiermee te doen?” vra hy haar.“U Majesteit,” sê sy, “’n mens kan sowaar niks vir u wegsteek nie! Ja, dit was u generaal, Joab, wat vir my gesê het om dit te doen. Hý het ook vir my alles gesê wat ek vir u moet sê.

20. Joab het dit gedoen sodat u ’n bietjie uit ’n ander hoek na die saak kan kyk. Maar, U Majesteit, u is so slim soos ’n engel uit die hemel; u weet alles wat in die land gebeur.”

21. Die koning het daarna vir Joab gesê: “Ja goed, ek sal doen wat jy wil hê. Laat die jongman Absalom maar terugkom.”

22. Joab het op sy knieë gaan staan en met sy gesig teen die grond gebuig. Hy het vir die koning baie dankie gesê. Hy het verder gesê: “U Majesteit, ek weet nou dat u vir my omgee, want u doen wat ek gevra het.”

23. Joab het daar opgestaan en Gesur toe gegaan. Hy het vir Absalom teruggebring Jerusalem toe.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 14