Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 13:1-16 Die Boodskap (DB)

1. Hierna het daar ’n lelike ding gebeur. Dawid se seun Absalom het ’n suster gehad. Haar naam was Tamar. Sy was baie mooi en haar halfbroer Amnon was verlief op haar.

2. Hy was skoon siek soos hy die hele dag oor Tamar, sy halfsuster, geloop en dink het. Hy kon nie naby haar kom nie, want sy was nog ’n jongmeisie wat eenkant moes bly.

3. Amnon en sy neef Jonadab, Samma se seun, was maats. Jonadab het altyd slim planne gehad.

4. Op ’n dag vra hy vir Amnon: “Hoekom lyk jy elke dag so moedeloos, prins? Wil jy nie maar vir my sê wat jou pla nie?”“Ek is verlief op Tamar, my halfbroer Absalom se suster,” sê Amnon.

5. Jonadab gee hom toe hierdie raad: “Gaan lê op jou bed, dan maak jy of jy siek is. Jou pa sal kom kyk hoe dit gaan, dan sê jy vir hom jou suster Tamar moet na jou toe kom om vir jou die kos te maak wat ’n siek mens nodig het. Sê vir hom sy moet dit daar voor jou kom maak en jou dan voer.”

6. Amnon het toe gaan lê en gemaak of hy siek is. Toe die koning kom kyk hoe dit met hom gaan, sê Amnon vir die koning: “Laat my suster Tamar asseblief kom en hier voor my twee hartbroodjies bak en my dan voer.”

7. Dawid het Tamar laat haal uit die huis waar die jongmeisies bly en vir haar gesê: “Gaan na jou broer Amnon se huis toe en maak vir hom kos wat hom beter sal laat voel.”

8. Tamar is toe na haar halfbroer se huis toe. Hy was nog in die bed. Sy het deeg gevat en dit geknie. Sy het hartbroodjies gemaak en dit gebak. Hy het haar die hele tyd dopgehou.

9. Sy het die broodjies uit die bakpan gegooi en voor hom neergesit. Maar hy wou nie eet nie. Hy het gesê al die mans moet eers uit die kamer uitgaan. Toe almal uit die kamer is,

10. sê hy vir Tamar: “Bring die broodjies na die agterste kamer, dan voer jy my daar.” Tamar het die hartbroodjies wat sy gebak het, vir Amnon in die agterste kamer gevat.

11. Toe sy by hom kom om hom te voer, gryp hy haar en sê: “Kom lê by my in die bed!”

12. Maar sy het gesê: “Nee, my broer! Moenie my verkrag nie! Ons doen nie so iets in Israel nie! Moenie ’n dom ding doen nie!

13. Wat moet van my word as ek so ’n skande oorkom? Dink aan jouself! Almal in Israel sal dink jy’s ’n skurk! Praat liewer met die koning; ek is seker hy sal my met jou laat trou.”

14. Maar hy wou nie na haar luister nie. En omdat hy sterker was as sy, het hy haar vasgedruk en verkrag.

15. Toe hy met haar klaar is, wou hy niks met haar te doen hê nie. So verlief as wat hy voor die tyd was, so min wou hy daarna met haar te doen hê. Hy het vir haar gesê: “Staan op! Gaan uit my huis uit!”

16. “Nee!” sê sy vir hom. “As jy my nou wegjaag, doen jy nog ’n leliker ding as wat jy alreeds gedoen het.”Maar hy wou nie na haar luister nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 13