Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 12:19-31 Die Boodskap (DB)

19. Dawid het gesien sy werksmense praat so saggies met mekaar. Toe weet hy die kind is dood. Hy vra toe vir hulle: “Is die kind dood?”“Ja, hy is dood,” het hulle geantwoord.

20. Dawid het van die grond af opgestaan en hom gewas. Hy het olyfolie aan sy vel gesmeer en skoon klere aangetrek. Hy het na die altaar van die Here toe gegaan en voor die Here op sy knieë gaan staan. Daarna het hy na die paleis toe teruggegaan en vir sy mense gesê hy wil eet. Hulle het vir hom kos gegee en hy het dit geëet.

21. Die paleiswerkers sê toe vir hom: “Hoe moet ons dit verstaan? Vir so lank as wat die kind geleef het, het u niks geëet nie en gehuil, maar nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?”

22. Dawid het hulle geantwoord: “Toe die kind nog geleef het, het ek niks geëet nie en gehuil omdat ek gedink het miskien sal die Here my jammer kry en die kind laat leef.

23. Maar nou is hy dood. Hoekom moet ek nog sonder kos bly? Ek kan nie die kind terugbring nie. Ek sal na hom toe gaan, maar hy kan nie na my toe terugkom nie.”

24. Dawid het sy vrou Batseba getroos. Hy het by haar geslaap en sy het toe weer ’n seuntjie gehad. Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het van Salomo gehou.

25. Die Here het Natan gestuur om ook vir hom ’n naam te gee. Hy het hom Jedidja, “die Here se liefling”, genoem.

26. Intussen het Joab weer Rabba, die hoofstad van die Ammoniete, aangeval. Hy het met sy soldate tot binne-in die stad gekom.

27. Joab stuur toe mense na Dawid toe om vir hom te sê: “Ek het teen Rabba geveg en die onderste deel van die stad waar die water is, oorgeneem.

28. Kom dan nou met die manskappe wat nog oor is, dan kom veg u teen die stad en neem dit in. Ek wil dit nie doen nie, want dan kry ek die eer daarvoor.”

29. Dawid het al die manne wat kon veg, bymekaargemaak en na Rabba toe opgetrek. Hy het teen die stad geveg en dit ingeneem.

30. Dawid het die kroon gevat wat op hulle koning Milkom se kop was en dit op sy eie kop gesit. Dit was ’n goue kroon met juwele wat omtrent 34 kilogram geweeg het. Dawid het baie ander goed in die stad gekry.

31. Hy het die mense van die stad vir hom laat werk: party van hulle moes met sae en ysterpikke en byle vir hom sandsteenblokke maak. Ander moes weer kleistene maak. Dawid het die mense van al die dorpe van die Ammoniete so laat werk.Daarna het hy met al die manskappe teruggegaan Jerusalem toe.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 12