Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 11:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Die volgende lente, in die tyd wanneer die konings gewoonlik gaan oorlog maak, het Dawid sy eie soldate saam met Joab en al die manskappe van Israel gestuur om teen die Ammoniete te veg. Hulle het die Ammoniete kafgeloop en hulle in Rabba, hulle hoofstad vasgekeer. Dawid was nie by nie; hy het in Jerusalem agtergebly.

2. Laat een middag, net na sy middagslapie, het hy op die dakstoep van die paleis rondgestap. Hy sien toe van die dak af ’n vrou wat besig is om te bad. Dit was ’n baie mooi vrou.

3. Dawid het iemand gestuur om te gaan uitvind wie sy is. Die man kom sê toe vir hom: “Dit is Eliam se dogter Batseba; sy is getroud met Urija, ’n Hetiet.”

4. Dawid het mense gestuur om haar te gaan haal, en toe sy by hom kom, het hy by haar geslaap. (Sy het haar juis gewas na haar menstruasie.) Na die tyd is sy weer terug huis toe.

5. Die vrou het toe Dawid se baba verwag en vir hom laat weet: “Ek verwag jou kind.”

6. Dawid het vir Joab laat weet: “Stuur Urija, die Hetiet, na my toe.”Joab het Urija na Dawid toe gestuur.

7. Toe hy by Dawid kom, vra Dawid vir hom hoe dit met Joab en die manskappe gaan en of dit goed gaan met die oorlog.

8. Daarna sê Dawid vir hom: “Gaan nou na jou huis toe, dan ontspan jy lekker.”Net na Urija uit die paleis is, het die koning vir hom ’n groot ete gestuur.

9. Maar Urija het nie huis toe gegaan nie. Hy het by die koning se wagte by die paleis se deur gaan slaap.

10. Dawid het gehoor Urija het nie by sy huis gaan slaap nie.“Jy was dan so lank weg, hoekom het jy nie huis toe gegaan nie?” vra Dawid hom die volgende môre.

11. Urija het geantwoord: “Hoe kan ek huis toe gaan om te gaan eet en drink en by my vrou te slaap as die ark van God en al die manne van Israel en Juda in tente bly, en Joab en die koning se eie soldate in die oop veld moet kamp? Ek sal dit so waar as u leef, nooit doen nie!”

12. “Bly nog vandag en môre hier, dan sal ek jou terugstuur,” het Dawid vir hom gesê. Urija het toe vir nog twee dae in Jerusalem gebly.

13. Dawid het hom uitgenooi om saam met hom te kom eet en drink en hom toe dronk gemaak. Daardie aand het Urija weer op dieselfde plek by die wagte van die koning gaan slaap. Hy wou glad nie huis toe gaan nie.

14. Die volgende môre het Dawid vir Joab ’n brief geskryf wat hy saam met Urija gestuur het.

15. In die brief het daar gestaan: “Sit vir Urija heel voor in die kwaaiste geveg. Los hom dan alleen sodat hulle hom kan bykom en hom doodmaak.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 11