Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 10:6-14 Die Boodskap (DB)

6. Die Ammoniete het geweet Dawid is baie kwaad vir hulle. Daarom het hulle mense gestuur om vir hulle soldate te huur. Hulle het 20 000 Aramese soldate by die regerings van Regob en Soba gekry. Hulle het ook by die koning van Maäka 1 000 manskappe en by Is-Tob nog 12 000 gehuur.

7. Dawid het dit gehoor en vir Joab met al sy beste soldate gestuur om teen hulle te veg.

8. Die Ammoniete se soldate het reggestaan voor die ingang na hulle hoofstad. Die Arameërs van Soba en Regob en die manne van Is-Tob en Maäka was eenkant in die oop veld.

9. Joab het gesien hulle gaan hom van voor en van agter af aanval. Daarom het hy die heel beste soldate in Israel laat regstaan om teen die Arameërs te veg.

10. Die ander soldate het hy vir sy broer Abisai gegee sodat hulle teen die Ammoniete kon veg.

11. Joab het vir Abisai gesê: “As die Arameërs my wen, moet jy my kom help, en as die Ammoniete jou wen, sal ek jou gaan help.

12. Maar julle moet moed hou! Ons moet dapper veg vir ons mense en vir die dorpe van ons God. Die Here sal besluit wie hier gaan wen.”

13. Joab het met die manne wat by hom was, die Arameërs aangeval, maar hulle het vir hom weggehardloop.

14. Toe die Ammoniete sien die Arameërs hardloop weg, het hulle ook vir Abisai padgegee en in hulle stad ingegaan. Joab het toe nie verder geveg teen die Ammoniete nie en teruggegaan Jerusalem toe.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 10