Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 9:5-18 Die Boodskap (DB)

5. Sy het vir Salomo gesê: “Die gerugte wat ek by die huis oor u wysheid en prestasies gehoor het, is die waarheid!

6. Ek het nie geglo wat ek gehoor het nie. Maar noudat ek dit met my eie oë gesien het, besef ek dat die helfte my nooit vertel is nie! U wysheid is baie groter as wat ek ooit kon vermoed.

7. Hoe gelukkig is hierdie mense tog nie! Wat ’n voorreg is dit vir u amptenare wat elke dag na u wysheid kan luister.

8. Die Here, u God, is inderdaad baie groot! Dit is omdat u God Israel so liefhet en besluit het om hulle vir altyd in stand te hou dat Hy u hulle koning gemaak het, om regverdig te regeer.”

9. Sy het toe vir die koning omtrent vier ton goud en ’n groot hoeveelheid speserye en edelstene gegee. Daar was nog nie voorheen sulke hoë kwaliteit speserye soos dié wat die koningin van Skeba vir Salomo gegee het nie.

10. (Toe Hiram en Salomo se skepe destyds goud van Ofir af gebring het, het hulle ook jenewerhout en edelstene saamgebring.

11. Die koning het die hout gebruik om trappe vir die tempel en die paleis te bou en om liere en harpe vir die musikante te maak. Sulke instrumente is nog nie voorheen in Juda gesien nie.)

12. Koning Salomo het op sy beurt vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy gevra het. Dit was selfs meer werd as die geskenke wat sy vir hom gegee het. Sy en al haar mense het toe vertrek en na haar land toe teruggekeer.

13. Salomo het elke jaar omtrent 23 ton goud ontvang.

14. Dit sluit nie eens die belasting in wat hy op die handelaars en reisigers gehef het nie. Daarby het al die Arabiese konings en die goewerneurs van gebiede ook vir Salomo goud en silwer ingebring.

15. Koning Salomo het 200 groot en 300 klein goue skilde laat maak. Vir elke groot skild het hy byna sewe kilogram goud gebruik

16. en vir elke klein skild omtrent drie en ’n half kilogram. Hy het al die skilde in die gebou, bekend as Woud van die Libanon, geplaas.

17. Verder het die koning ’n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

18. Die troon het ses trappe gehad. Daar was ook ’n goue voetrus aan die troon vasgeheg. Weerskante van die sitplek was daar armleunings met ’n leeu aan elke kant.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 9