Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 32:11-22 Die Boodskap (DB)

11. Hiskia sê mos: ‘Die Here ons God sal ons beskerm teen die Assiriese koning!’ Hy mislei julle. Dit sal maak dat julle nog van honger en dors doodgaan.

12. Is dit nie dieselfde Hiskia wat die Here se heilige plekke en altare laat vernietig het nie? Dis mos hy wat vir die mense van Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle mag die Here net by een altaar vereer en net op die een plek wierook brand.’

13. Julle moet tog weet wat ek en my voorgangers met al die volke in die wêreld gedoen het! Was enigeen van daardie volke se gode sterk genoeg om hulle uit my kloue te red?

14. Nie een van die volke wat my voorgangers uitgeroei het, se gode was sterk genoeg om hulle te red nie. Hoe sal júlle God dit tog kan regkry?

15. Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Ek herhaal, geen god kon tot dusver enige volk teen my of my voorgangers beskerm nie. Nog minder sal julle God julle teen my kan beskerm!”

16. Die boodskappers het nog baie beledigings teen die Here God en teen sy dienaar Hiskia uitgespreek.

17. Die koning het ook briewe geskryf waarin hy die Here, die God van Israel, beledig het. Hy het geskryf: “Net soos die ander volke se gode hulle nie uit my mag kon red nie, sal die God van Hiskia dit ook nie regkry nie.”

18. Die Assiriese boodskappers het hard in Hebreeus gepraat sodat almal hulle kon verstaan. Hulle doel was om die soldate op die mure te verwar en bang te maak sodat hulle Jerusalem kon inneem.

19. Hulle het oor die God van Jerusalem gepraat asof Hy maar net soos een van die handgemaakte gode van die ander volke was.

20. Toe het koning Hiskia en die profeet Jesaja, Amos se seun, ernstig gebid.

21. Die Here het ’n engel gestuur wat die hele Assiriese leër met al sy bevelvoerders en offisiere doodgemaak het. Sanherib moes vernederd na sy land toe teruggaan. Toe hy daar die tempel van sy god besoek, het van sy eie kinders hom doodgemaak.

22. So het die Here Hiskia en die inwoners van Jerusalem van die Assiriese koning Sanherib en van al hulle ander vyande verlos. Daar was toe vrede met almal rondom hulle.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 32