Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 26:12-23 Die Boodskap (DB)

12. Die afdelings geoefende soldate het onder bevel van 2 600 familiehoofde gestaan.

13. Die leër het uit 307 500 uitgesoekte soldate bestaan. Die koning kon op hulle reken wanneer hy teen enige vyand moes veg.

14. Ussia het die leër uitgerus met skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë, en slingerklippe.

15. Hy het ook goeie veiligheidsraamwerke gehad wat op die torings en die hoeke van Jerusalem opgerig is. Van daar af kon hulle pyle afskiet en groot klippe op aanvallers afgooi.Ussia het wyd en syd bekend geword. Deur God se goedheid het hy baie magtig geword.

16. Toe Ussia so magtig geword het, was hy so vol van homself dat dit tot sy val gelei het. Hy het arrogant teenoor die Here sy God opgetree. Dit het gebeur toe hy op ’n keer in die tempel van die Here ingegaan het om sommer self wierook op die altaar te gaan brand.

17. Die priester Asarja en 80 dapper priesters het hom die tempel in gevolg.

18. Hulle het koning Ussia gekonfronteer en vir hom gesê: “Koning Ussia, u mag dit nie doen nie. Slegs priesters uit die Aäronfamilie mag wierook vir die Here brand. Gaan dadelik uit die heiligdom uit. U het ’n groot sonde gedoen. Die Here hou niks hiervan nie.”

19. Ussia het reeds met ’n wierookpan in sy hand gestaan, reg om die wierook te offer, toe die priesters hom aangespreek het. Hy was woedend oor wat hulle vir hom gesê het. Terwyl hy nog op hulle skree, het ’n velsiekte op sy voorkop uitgeslaan. Dit het daar in die tempel, reg langs die wierookaltaar, voor die oë van die priesters gebeur.

20. Toe Asarja en die ander priesters dit sien en besef dat hy ’n velsiekte gekry het, het hulle hom vinnig uit die tempel uitgevat. Hy het vinnig daar padgegee, want die Here se straf het hom getref.

21. Koning Ussia het die velsiekte gehad tot hy dood is. Hy het die res van sy lewe in afsondering deurgebring. Hy kon ook nooit weer na die tempel toe gaan nie. Sy seun Jotam het beheer oor die paleis oorgeneem. Hy het oor die mense van Juda regeer.

22. Die res van Ussia se geskiedenis is deur die profeet Jesaja, Amos se seun, neergeskryf.

23. Ussia is dood en hulle het hom in die veld naby die konings se grafte begrawe omdat hy die velsiekte gehad het.Sy seun Jotam het hom opgevolg.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 26