Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 25:18-28 Die Boodskap (DB)

18. Joas het Amasia met ’n fabel geantwoord: “In die Libanonberg was daar ’n distelbos wat vir die sederboom gesê het: ‘Laat jou dogter met my seun trou.’ Net toe kom daar egter ’n wilde dier verby wat die distelbos vertrap.

19. Jy het inderdaad nou vir Edom verslaan en jy voel trots daarop. Wees tog nou tevrede daarmee en bly by die huis! Waarom wil jy nou moeilikheid maak wat vir jou en die mense van Juda net ongeluk kan bring?”

20. Amasia wou nie luister nie. Dit was God se plan. Hy wou hulle straf omdat hulle die gode van Edom vereer het.

21. Joas van Israel het toe teen Amasia van Juda gaan veg. Hulle het by Bet-Semes in Juda slaags geraak.

22. Juda is deur Israel verslaan en die Judeërs het huis toe gevlug.

23. Joas het Amasia in Bet-Semes gevang en hom na Jerusalem toe gevat. Daar het hy ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek: omtrent 180 meter tussen die Efraimspoort en die Hoekpoort.

24. Hy het al die goud en silwer gevat wat hy kon kry, asook die waardevolle goed in die tempel wat deur Obed-Edom opgepas is en die goed in die paleis ook. Hy het dit alles, saam met die gyselaars wat hy gevang het, Samaria toe geneem.

25. Koning Amasia van Juda het ná koning Joas van Israel se dood nog vyftien jaar lank in Jerusalem regeer.

26. Die res van Amasia se geskiedenis word vertel in Die Geskiedenis van die Konings van Israel en Juda.

27. Sedert die tyd dat Amasia ongehoorsaam geword het aan die Here, is daar ’n komplot in Jerusalem teen hom gesmee. Hy het Lagis toe gevlug. Die samesweerders het egter moordenaars agter hom aangestuur en hom daar in Lagis vermoor.

28. Hulle het sy lyk op perde na Jerusalem toe teruggeneem en hy is in sy familiegraf in die Dawidstad begrawe.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 25