Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 25:16-24 Die Boodskap (DB)

16. Hy was nog besig om te praat toe Amasia hom skerp in die rede val: “Het ons jou dalk as koninklike raadgewer aangestel? Bly stil, voordat ek jou sommer hier op die plek doodmaak!”Die profeet het toe ’n laaste woord ingekry: “Wat ek weet, is dat God besluit het om u te vernietig oor wat u aangevang het en omdat u nie na my raad wou luister nie.”

17. Nadat hy met sy raadgewers gepraat het, het Amasia ’n boodskap na koning Joas van Israel, Joahas se seun en Jehu se kleinseun, gestuur. Hy het gesê: “Kom, laat ons teen mekaar veg!”

18. Joas het Amasia met ’n fabel geantwoord: “In die Libanonberg was daar ’n distelbos wat vir die sederboom gesê het: ‘Laat jou dogter met my seun trou.’ Net toe kom daar egter ’n wilde dier verby wat die distelbos vertrap.

19. Jy het inderdaad nou vir Edom verslaan en jy voel trots daarop. Wees tog nou tevrede daarmee en bly by die huis! Waarom wil jy nou moeilikheid maak wat vir jou en die mense van Juda net ongeluk kan bring?”

20. Amasia wou nie luister nie. Dit was God se plan. Hy wou hulle straf omdat hulle die gode van Edom vereer het.

21. Joas van Israel het toe teen Amasia van Juda gaan veg. Hulle het by Bet-Semes in Juda slaags geraak.

22. Juda is deur Israel verslaan en die Judeërs het huis toe gevlug.

23. Joas het Amasia in Bet-Semes gevang en hom na Jerusalem toe gevat. Daar het hy ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek: omtrent 180 meter tussen die Efraimspoort en die Hoekpoort.

24. Hy het al die goud en silwer gevat wat hy kon kry, asook die waardevolle goed in die tempel wat deur Obed-Edom opgepas is en die goed in die paleis ook. Hy het dit alles, saam met die gyselaars wat hy gevang het, Samaria toe geneem.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 25