Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 25:11-22 Die Boodskap (DB)

11. Amasia het sy leër toe uitgelei en 10 000 soldate van Seïr in die Soutdal verslaan.

12. Hulle het ’n verdere 10 000 gevange geneem. Dié groep is na ’n krans toe geneem en bo van die krans af gegooi. Hulle het hulle almal te pletter geval.

13. Die Israelitiese soldate wat Amasia weggestuur het, het intussen in Juda amok gemaak. Hulle het op ’n plundertog deur Juda gegaan en ’n klomp dorpe tussen Samaria en Bet-Goron aangeval. Hulle het sowat 3 000 mense doodgemaak en ’n groot hoeveelheid buit vir hulle gevat.

14. Na sy suksesvolle veldtog teen die Edomiete het Amasia die gode saamgebring wat hy van die vyand afgeneem het. Hy het hulle vir hom opgestel, hom voor hulle neergebuig en hulle met offers vereer.

15. Daaroor het die Here baie kwaad geword vir Amasia. Hy het ’n profeet na hom toe gestuur wat vir Amasia gesê het: “Hoe vereer u dan nou ’n spul gode wat nie eers hulle eie volk teen u kon beskerm nie?”

16. Hy was nog besig om te praat toe Amasia hom skerp in die rede val: “Het ons jou dalk as koninklike raadgewer aangestel? Bly stil, voordat ek jou sommer hier op die plek doodmaak!”Die profeet het toe ’n laaste woord ingekry: “Wat ek weet, is dat God besluit het om u te vernietig oor wat u aangevang het en omdat u nie na my raad wou luister nie.”

17. Nadat hy met sy raadgewers gepraat het, het Amasia ’n boodskap na koning Joas van Israel, Joahas se seun en Jehu se kleinseun, gestuur. Hy het gesê: “Kom, laat ons teen mekaar veg!”

18. Joas het Amasia met ’n fabel geantwoord: “In die Libanonberg was daar ’n distelbos wat vir die sederboom gesê het: ‘Laat jou dogter met my seun trou.’ Net toe kom daar egter ’n wilde dier verby wat die distelbos vertrap.

19. Jy het inderdaad nou vir Edom verslaan en jy voel trots daarop. Wees tog nou tevrede daarmee en bly by die huis! Waarom wil jy nou moeilikheid maak wat vir jou en die mense van Juda net ongeluk kan bring?”

20. Amasia wou nie luister nie. Dit was God se plan. Hy wou hulle straf omdat hulle die gode van Edom vereer het.

21. Joas van Israel het toe teen Amasia van Juda gaan veg. Hulle het by Bet-Semes in Juda slaags geraak.

22. Juda is deur Israel verslaan en die Judeërs het huis toe gevlug.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 25