Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 21:7-19 Die Boodskap (DB)

7. Maar die Here het gelukkig nie ’n einde gemaak aan die koningshuis van Dawid nie omdat Hy vir Dawid beloof het dat daar altyd iemand uit sy nageslag op sy troon sou sit.

8. In Joram se tyd het die Edomiete van Juda af weggebreek en hulle eie koning aangestel.

9. Joram het die Edomiete met sy hele leër en al sy strydwaens agternagesit om sy gesag oor hulle te herstel. Die Edomiete het hom en sy strydwaens egter omsingel, maar hy het in die nag in die donker weggekom.

10. Van toe af was die Edomiete onafhanklik van Juda.

11. Joram het selfs in die heuwelland van Juda hoogtes vir afgode gebou en die mense van Juda en Jerusalem verlei om afgode te dien.

12. Die profeet Elia het vir Joram ’n brief geskryf.Hier is vir jou ’n boodskap van die Here, die God van Dawid, jou voorvader. Hy sê: Jy het nie die goeie voorbeeld van jou pa, Josafat, en jou oupa, Asa, gevolg nie.

13. Jy het net so sleg soos al die ander konings van Israel geword. Jy het die mense van Juda en Jerusalem verlei om afgode te dien, net soos Agab met die mense van Israel gedoen het. Jy het selfs jou eie broers doodgemaak. Hulle was beter mense as jy.

14. Nou gaan die Here jou straf, maar nie net vir jou nie. Ook jou mense, jou kinders en jou vroue gaan erg getref word.

15. Jy gaan baie ernstig siek word. Die siekte sal chronies wees, totdat jou ingewande later sal uitkom.

16. Die Here het toe gesorg dat die Filistyne en die Arabiere wat naby die Kussiete woon, vyande van Joram word.

17. Hulle het Juda aangeval en die paleis beroof van alles wat waardevol was. Hulle het selfs sy vroue en kinders weggevat. Net een seun, Ahasia, die jongste, het agtergebly.

18. Daarna het die Here Joram met ’n chroniese siekte getref. Niemand kon hom gesond maak nie.

19. Na twee jaar was hy so siek dat sy ingewande uitgekom het. Hy het baie pyn gehad en is uiteindelik dood. Sy mense het nie soos gewoonlik by die dood van konings vir hom ’n begrafnisvuur aangesteek nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 21