Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:26-37 Die Boodskap (DB)

26. Op die vierde dag het hulle in die Lofdal bymekaargekom. Hulle het die plek só genoem omdat dit die plek is waar hulle die Here geloof het en vir Hom dankie gesê het vir wat Hy vir hulle gedoen het. Die plek word nog altyd Lofdal genoem.

27. Daarna het die hele leër van Josafat teruggegaan Jerusalem toe. Hulle was baie bly omdat die Here vir hulle ’n oorwinning oor hulle vyande gegee het.

28. Hulle het in Jerusalem ingekom en na die tempel toe gegaan, terwyl die harpe en liere gespeel het en die trompette geblaas is.

29. Toe Israel se buurvolke hoor dat die Here self vir Israel teen hulle vyande geveg het, het hulle baie bang geword vir God.

30. As gevolg daarvan het Josafat se koninkryk vrede beleef. God het vir hom vrede gegee met al sy buurlande.

31. Josafat was 35 jaar oud toe hy koning van Juda geword het. Hy het 25 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuba, ’n dogter van Silgi.

32. Hy het soos sy pa Asa regeer en dinge gedoen waarvan die Here gehou het,

33. maar hy het nie die hoogtes waar die mense ander gode gedien het, vernietig nie. Die mense van Juda het ook nog nie vir God met alles in hulle gedien nie.

34. Die res van Josafat se geskiedenis is in Die Herinneringe van Jehu, Ganani se seun opgeskryf. Dié boek is later opgeneem in Die Geskiedenisboek van die Konings van Israel.

35. Later het Josafat ’n vennootskap met koning Ahasia van Israel aangegaan. Dit was ’n baie groot fout.

36. Hulle het saamgewerk en in Esjon-Geber skepe gebou om Tarsis toe te vaar.

37. Eliëser, Dodawa se seun uit Maresa, het die volgende profetiese woorde oor Josafat gesê: “Omdat jy saam met Ahasia gewerk het, sal die Here jou projek laat misluk.”Die skepe het toe vergaan en Tarsis nooit bereik nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20