Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 2:7-18 Die Boodskap (DB)

7. “Hier is nou my versoek: stuur tog vir my ’n bekwame vakman wat met metale soos goud, silwer, brons en yster kan werk en wat vaardig is met pers, rooi en blou materiaal en wat goed is met gravering. Hy sal hier saam met vakmanne uit Juda en Jerusalem werk, wat my pa destyds aangestel het.

8. Stuur ook vir my seder- en sipreshout en ander edelhoutsoorte wat daar in die Libanonberg groei. Ek weet hoe vaardig u mense is om bome op te saag. My werkers sal u s’n help

9. om ’n baie groot hoeveelheid planke voor te berei, want die huis wat ek wil bou gaan so groot wees dat mense hulle daaroor sal verwonder.

10. “Ek sal baie kos vir u werkers voorsien wat die hout moet kap. Ek sal sorg vir meer as 3 600 ton koring en net soveel gars en vir 420 kiloliter wyn en net soveel olyfolie.”

11. Koning Hiram van Tirus het die volgende antwoord vir Salomo gestuur: “Dit is omdat die Here sy volk liefhet dat Hy jou hulle koning gemaak het!

12. “Ek prys die Here, die God van Israel, wat die hemel en aarde gemaak het en wat vir Dawid so ’n wyse seun en opvolger gegee het. ’n Seun wat die insig het om vir die Here ’n tempel en vir homself ’n paleis te bou!

13. “Ek stuur vir u Hiram, ’n meestervakman, wat baie kennis en ondervinding het.

14. Sy ma is ’n vrou uit die stam van Dan en sy pa is hier van Tirus af. Hy het ondervinding met goud, silwer, brons, yster, klip en hout, maar ook met pers, rooi en blou materiaal en baie fyn linne. Hy is ook ’n bekwame graveerder wat die vermoë het om saam met u vakmanne en dié wat u pa destyds aangestel het, te werk. Hy sal enige ontwerp wat aan hom voorgelê word, kan maak.

15. “Stuur nou maar die koring, gars, olie en wyn wat u vir die werkers beloof het.

16. Ons sal al die hout wat u nodig het in die Libanonberg kap en dit as vlotte op die see afstuur tot by Joppe. Van daar af moet u dit dan by Jerusalem kry.”

17. Salomo het toe telling gehou van al die vreemde mense wat daar in Israel gewoon het, net soos die telling wat Dawid ’n vorige keer gehou het. Hulle het agtergekom dat daar 153 600 vreemdelinge in die land was.

18. Hy het 70 000 van hulle draers gemaak en 80 000 as klipkappers gebruik. Daar was 3 600 mense wat oor hoe hulle werk toesig gehou het.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 2