Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 18:2-11 Die Boodskap (DB)

2. ’n Paar jaar later het hy by Agab in Samaria gaan kuier. Agab het ’n groot onthaal vir hom en sy amptenare gereël. Hulle het ’n klomp skape en beeste vir die geleentheid geslag om Josafat te probeer oorhaal om Ramot in Gilead saam met Israel aan te val.

3. Agab vra toe vir Josafat: “Sal jy saam met my teen Ramot in Gilead gaan oorlog maak?”Josafat het gesê: “Maar natuurlik! Ons is mos familie. My soldate is tot jou beskikking.”

4. Maar Josafat het bygevoeg: “Laat ons net eers seker maak wat die Here daarvan sê.”

5. Agab het toe 400 profete bymekaar laat kom. Hy het vir hulle gevra: “Kan ons voortgaan met die plan om teen Ramot in Gilead te gaan veg, of moet ons dit los?”Hulle antwoord toe: “Gaan maar, want God sal julle laat wen.”

6. Josafat was nog nie tevrede nie. “Is hier nie nog ’n profeet by wie ons kan hoor wat die Here wil hê nie?” het hy gevra.

7. Agab het geantwoord: “Ja, hier is nog één, maar ek haat hom. Hy het nooit ’n goeie boodskap vir my nie. Hy het net altyd negatiewe dinge vir my te sê. Hy is Miga, Jimla se seun.”“Jy moet darem nie só praat nie!” sê Josafat toe. “Kom ons hoor wat hy sê.”

8. Die koning van Israel het toe ’n amptenaar gestuur en gesê: “Gaan haal dadelik vir Miga, Jimla se seun.”

9. Die twee konings het op hulle koninklike stoele op die dorsvloer net buite die ingang na Samaria gesit. Terwyl hulle daar sit en wag het met hulle koninklike klere aan, het al die profete hulle boodskappe gebring.

10. Een van die profete was Sedekia, Kenaäna se seun. Hy het vir hom ysterhorings gemaak. “Met sulke horings,” het hy gesê, “sal u die Arameërs doodmaak.”

11. Al die profete het saamgepraat en die konings aangemoedig om by Ramot in Gilead te gaan veg, “want,” het hulle gesê, “die Here sal u laat wen.”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 18