Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 15:10-19 Die Boodskap (DB)

10. Hulle het in die derde maand van die vyftiende jaar waarin Asa regeer het, in Jerusalem bymekaargekom.

11. Dié dag het hulle baie van die diere wat hulle in die oorlog afgevat het, vir die Here geslag. Hulle het 700 beeste en 7 000 skape en bokke geoffer.

12. Daarna het hulle ’n ooreenkoms met mekaar gesluit dat hulle die Here, die God van hulle voorouers, met alles in hulle vermoë sou dien.

13. Hulle het besluit om enigiemand, oud of jonk, man of vrou, wat dit nie wou doen nie, dood te maak.

14. Hulle het hulle belofte aan die Here met vreugde uitgeskree terwyl hulle hard op die trompette en ramshorings blaas.

15. Al die mense van Juda was bly oor die belofte wat hulle gemaak het, want hulle het dit regtig bedoel. Hulle wou graag doen wat die Here van hulle verwag het en die Here het hulle gehelp. Hy het toe vir hulle vrede met al die volke rondom hulle gegee.

16. Asa het selfs sy ouma Maäka as koningin-moeder afgesit omdat sy ’n vieslike pilaar ter ere van Asjera gemaak het. Asa het die ding afgekap, in stukke gebreek en toe in die Kidronvallei gaan verbrand.

17. Al is die plekke waar ander gode gedien is, nie almal uit Israel verwyder nie, was Asa sy lewe lank uiters getrou aan die Here.

18. Hy het die goue en silwervoorwerpe wat hy en sy pa spesiaal vir die Here bymekaargemaak het, in die tempel gaan sit.

19. Tot in die 35ste jaar waarin Asa regeer het, was daar nie weer oorlog nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 15