Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 12:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Nadat Rehabeam sy koningskap goed gevestig het, het hy onafhanklik begin optree. Hy het die Here se wet verwerp. Die hele Israel het dieselfde begin doen.

2. As gevolg van hulle ongehoorsaamheid aan die Here het koning Sisak van Egipte Jerusalem aangeval. Dit het gebeur in die vyfde jaar dat Rehabeam regeer het.

3. Sisak het met 1 200 strydwaens, 60 000 berede soldate en ’n ontelbare klomp voetsoldate opgetrek. Die voetsoldate was Libiërs, Sukkeërs en Kussiete.

4. Sisak het die versterkte stede van Juda maklik oorwin en toe teen Jerusalem opgetrek.

5. Semaja, die profeet, het Rehabeam en die leiers van Juda gaan opsoek. Hulle was in Jerusalem bymekaar om te besluit hoe hulle op Sisak se aanval moes reageer. Semaja het vir hulle gesê: “Hier is die Here se boodskap vir julle: ‘Julle het My in die steek gelaat; daarom laat Ek julle nou met Sisak se aanval in die steek.’”

6. Die leiers van Israel en die koning was verleë oor hulle sondes en hulle het laag voor die Here gebuig. Hulle het vir Hom gesê: “Die Here doen altyd wat reg is!”

7. Toe die Here sien hoe jammer hulle is, het Hy weer vir Semaja ’n boodskap gegee: “Hulle is jammer oor hulle sonde. Maar Ek gaan hulle nie heeltemal vernietig nie. Ek sal nie nou vir Sisak gebruik om al my woede op Jerusalem uit te haal nie.

8. Hulle sal wel vir ’n ruk sy onderdane word sodat hulle kan leer hoeveel beter dit is om My te dien in plaas van ’n aardse koning.”

9. Koning Sisak van Egipte het Jerusalem ingekom en beslag gelê op al die skatte wat in die tempel en die paleis gestoor was. Hy het ook die goue skilde gevat wat Salomo laat maak het.

10. Koning Rehabeam het toe bronsskilde in die plek daarvan gemaak. Hy het dit in die sorg gelaat van die bevelvoerders van die wagte wat die tempel se ingang opgepas het.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 12