Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 10:5-15 Die Boodskap (DB)

5. Rehabeam antwoord toe: “Kom oor drie dae terug, dan sal ek julle antwoord.” Hulle is toe daar weg.

6. Rehabeam het die saak met die ouer raadgewers, wat ook vir sy pa, Salomo, raad gegee het, gaan bespreek. “Wat dink julle?” het hy gevra. “Hoe moet ek op hulle versoek reageer?”

7. Hulle het gesê: “As jy mooi werk met dié mense en goed is vir hulle, en as jy moeite doen om hulle tegemoet te kom, sal hulle vir altyd jou getroue onderdane bly.”

8. Rehabeam het hulle raad egter verwerp en die saak met die jonger manne wat saam met hom grootgeword het, gaan bespreek.

9. Hy het vir hulle gevra: “Wat dink julle moet ek die mense antwoord wat vir my gevra het om die las wat my pa hulle opgelê het, ligter te maak?”

10. Die jongmanne het gesê: “Jy moet die klomp wat kla só antwoord: ‘My pinkie is dikker as my pa se middellyf! As julle dink hy het julle swaar laat kry, wag maar tot julle sien wat ek kan doen!

11. My pa was kwaai met julle, ek sal nog kwaaier wees; hy het ’n sweep gebruik, ek sal julle met gésels slaan!’”

12. Drie dae later het Jerobeam en al die ander mense teruggekom soos Rehabeam versoek het. Hulle wou graag hoor wat die koning besluit het.

13. Rehabeam het toe baie lelik met hulle gepraat omdat hy die raad van die ouer raadgewers verwerp het

14. en na die jongmanne geluister het. Hy het gesê: “My pa was kwaai met julle, ek sal nog kwaaier wees; hy het ’n sweep gebruik, ek sal julle met gésels slaan!”

15. Die koning het glad nie geluister na die mense se versoek nie. Dit was soos God beplan het. So het die profesie van die Here waar geword wat die profeet Agija van Silo teenoor Jerobeam uitgespreek het.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 10