Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 9:22-37 Die Boodskap (DB)

22. Toe hulle naby aan mekaar was, het Joram geroep: “Jehu, kom jy in vrede?”“Vrede? Wat bedoel jy?” het Jehu gevra. “Hoe kan daar vrede wees terwyl jou ma vreemde gode laat vereer en towery bedryf?”

23. Joram het besef wat aangaan en sy strydwa omgepluk om te vlug. Hy het vir Ahasia geskree: “Dit is verraad, Ahasia!”

24. Jehu het sy boog gespan en Joram tussen die blaaie geskiet. Die pyl het deur sy hart gegaan en hy het net daar bo-op sy strydwa dood inmekaargesak.

25. Jehu het vir Bidkar, sy adjudant, gesê: “Gooi hom net hier op Nabot se stuk grond af. Onthou jy destyds toe ek en jy langs mekaar agter sy pa Agab gery het, het Agab die volgende boodskap van die Here af gekry:

26. ‘Ek sweer dat Ek die moord op Nabot en sy seuns gesien het. Ek sal jou en jou familie op hierdie selfde stuk grond laat boet!’ Dus, gooi hom hier op Nabot se grond af, soos die Here gesê het.”

27. Toe Ahasia sien wat gebeur, het hy weggejaag in die rigting van Bet-Gan. Jehu het agter hom aangejaag en vir sy mense geskree: “Skiet hom ook!” By die hoogte van Gur, naby Jiblaim, is hy gewond. Hy kon nog tot by Megiddo wegjaag, waar hy dood is.

28. Sy amptenare het sy lyk op sy strydwa Jerusalem toe geneem en hom daar, in die Stad van Dawid, by sy voorouers begrawe.

29. Ahasia het in Joram se elfde jaar as koning van Israel in Juda begin regeer.

30. Toe Isebel hoor dat Jehu na Jisreël toe op pad was, het sy haar gegrimeer en haar hare versorg. Sy het by die venster gaan staan en buitentoe gekyk.

31. Toe Jehu by die stadspoort inkom, het sy vir hom gevra: “Kom jy in vrede, moordenaar? Jy is net soos Simri wat sy heer vermoor het.”

32. Jehu het na die venster toe opgekyk en gevra: “Wie is aan my kant?” Twee of drie van die paleiswerkers het vir hom gekyk.

33. Toe skree hy vir hulle: “Gooi haar daar af!” Hulle het haar toe by die venster uitgegooi. Daar het van haar bloed teen die muur en teen die perde gespat en Jehu het haar nog verder onder die perdehoewe vertrap.

34. Jehu het toe in die paleis gaan eet en drink. Toe hy versadig was, het hy gesê: “Iemand moet die vervloekte vrou gaan begrawe, want sy was darem ’n koning se dogter.”

35. Toe hulle buite kom, was daar byna niks van haar oor nie. Hulle kon net haar kopbeen, haar voete en haar hande vind.

36. Hulle het vir Jehu gaan vertel wat hulle gekry het. Hy sê toe: “Dit is nou presies wat die Here gesê het met Isebel sou gebeur. Elia, die profeet, het gesê: ‘Honde sal op die oop stuk grond in Jisreël Isebel se vleis eet.’

37. Haar oorblyfsels sal soos mis op die velde lê en niemand sal weet dit is Isebel se oorblyfsels nie.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 9