Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 9:18-26 Die Boodskap (DB)

18. Toe die perderuiter by Jehu-hulle kom, sê hy: “Die koning vra of julle in vrede kom.”Jehu het geantwoord: “Wat praat jy van vrede? Val agter my in!” Die wag het vir Joram laat weet: “Die ruiter het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie!”

19. Joram het toe nog ’n boodskapper gestuur, maar presies dieselfde het weer gebeur.

20. Die wag het vir Joram gesê: “Die tweede boodskapper kom ook nie terug nie. En ek dink dit moet Jehu, die seun van Nimsi, wees wat hier aankom, want hy ry soos ’n mal mens!”

21. Die koning het toe beveel: “Kry vir my ’n strydwa gereed!” Koning Joram van Israel en koning Ahasia van Juda het toe op hulle strydwaens vir Jehu tegemoet gery. Hulle het mekaar op die stuk veld ontmoet wat vroeër aan Nabot behoort het.

22. Toe hulle naby aan mekaar was, het Joram geroep: “Jehu, kom jy in vrede?”“Vrede? Wat bedoel jy?” het Jehu gevra. “Hoe kan daar vrede wees terwyl jou ma vreemde gode laat vereer en towery bedryf?”

23. Joram het besef wat aangaan en sy strydwa omgepluk om te vlug. Hy het vir Ahasia geskree: “Dit is verraad, Ahasia!”

24. Jehu het sy boog gespan en Joram tussen die blaaie geskiet. Die pyl het deur sy hart gegaan en hy het net daar bo-op sy strydwa dood inmekaargesak.

25. Jehu het vir Bidkar, sy adjudant, gesê: “Gooi hom net hier op Nabot se stuk grond af. Onthou jy destyds toe ek en jy langs mekaar agter sy pa Agab gery het, het Agab die volgende boodskap van die Here af gekry:

26. ‘Ek sweer dat Ek die moord op Nabot en sy seuns gesien het. Ek sal jou en jou familie op hierdie selfde stuk grond laat boet!’ Dus, gooi hom hier op Nabot se grond af, soos die Here gesê het.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 9