Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 8:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Elisa het vir die vrou wie se seun hy lewendig gemaak het, gesê: “Vat jou familie en gaan bly op ’n plek in die buiteland. Die Here het bepaal dat daar in ons land ’n hongersnood gaan wees wat sewe jaar lank gaan aanhou.”

2. Die vrou het dit gedoen en vir sewe jaar in die land van die Filistyne gaan woon.

3. Na die hongersnood het sy na Israel toe teruggekom. Sy het toe met die koning gaan praat om haar huis en haar grond te probeer terugkry.

4. Die koning was net toe besig om met Gehasi, Elisa se assistent, te gesels. Hy het vir Gehasi gevra: “Vertel my ’n bietjie van die groot dinge wat Elisa gedoen het.”

5. Terwyl Gehasi besig was om te vertel van die keer toe Elisa die seun lewendig gemaak het, kom die vrou net daar aan om met die koning te praat oor haar huis en haar grond.“Kyk, U Majesteit!” het Gehasi uitgeroep. “Dít is die vrou en haar seun wat deur Elisa lewendig gemaak is!”

6. “Is dit waar?” het die koning haar gevra. Sy het alles bevestig. Die koning het ’n amptenaar van die paleis saam met haar gestuur. Hy het vir die amptenaar gesê: “Sorg dat sy alles kry wat aan haar behoort. Sorg verder ook dat sy die waarde ontvang van die oeste wat op haar lande ingesamel is van die tyd wat sy weg was.”

7. Elisa het Damaskus, die hoofstad van Aram, besoek terwyl die koning, Ben-Hadad, siek in die bed was. Iemand het vir Ben-Hadad vertel dat Elisa in die stad was.

8. Toe hy dit hoor, het Ben-Hadad vir Gasael na Elisa toe gestuur. “Neem geskenke saam en gaan vra vir die man van God Hy moet die Here vra of ek weer gesond gaan word,” het hy beveel.

9. Gasael het 40 kamele gelaai met die beste produkte uit Damaskus as ’n geskenk vir Elisa. Toe hy by hom aankom, het hy gesê: “U kneg, Ben-Hadad, die koning van Aram, het my gestuur om te vra of hy weer gesond sal word.”

10. Elisa het geantwoord: “Gaan sê vir hom: ‘U sal gesond word,’ maar die Here het my laat weet dat hy eintlik gaan sterf.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 8