Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 6:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Die profete het eendag vir Elisa gesê: “Die bymekaarkomplek waar ons u ontmoet, is nou te klein.

2. Kan ons langs die Jordaanrivier gaan hout kap? As elkeen ’n paar balke bring, kan ons ’n nuwe plek bou waar ons bymekaar kan kom.”Elisa het vir hulle gesê: “Gaan gerus!”

3. Een van hulle het egter gesê: “Maar u moet saam met ons kom!” “Nou goed,” het hy geantwoord, “ek kom saam.”

4. Hy is toe saam met hulle rivier toe en hulle het die bome begin afkap.

5. Terwyl hulle werk, het een se byl van die steel losgeraak en in die water geval. “Ag, Meneer,” het hy gekerm, “dit was ’n geleende byl!”

6. Elisa het gevra: “Waar het die byl in die water geval?” Toe hy vir Elisa die plek wys, het Elisa ’n stok afgesny en dit daar in die water gegooi. Die byl het op die water begin dryf

7. en Elisa het vir die man gesê: “Haal dit nou maar uit.”Die man het sy hand uitgesteek en die byl uit die water gehaal.

8. Die Arameërs was in ’n oorlog met Israel gewikkel. Dit het telkens gebeur dat die Aramese koning met sy bevelvoerders vergader het en dat hulle besluit het om op ’n sekere plek aan te val.

9. Dan het Elisa dadelik ’n boodskap na Israel se koning gestuur om hom te waarsku oor die betrokke plek. Hy sou vir hom laat weet: “Vermy hierdie plek, want dit is waar die Arameërs julle gaan aanval.”

10. Die koning sou dan dadelik ’n boodskap na die betrokke plek toe stuur om die mense daar te waarsku om versigtig te wees.Dit het ’n hele paar keer gebeur.

11. Die Aramese koning het al hoe onrustiger geraak omdat hulle geheime so uitgelek het. Hy het die leiersgroep byeengeroep en gesê: “Dis duidelik dat iemand uit die binnekring ons geheime aan die Israeliete verklap. Ek eis om te weet wie dit is!”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 6