Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 5:19-27 Die Boodskap (DB)

19. Elisa het geantwoord: “Gaan maar sonder bekommernis,” en Naäman het huis toe gegaan.

20. Elisa se assistent, Gehasi, het vir homself gesê: “Ek kan nie glo dat Elisa hierdie Arameër laat gaan het sonder om die geskenk te vat wat hy saamgebring het nie. Ek gaan beslis agter hom aanhardloop om ten minste iets by hom te kry!”

21. Gehasi is toe haastig agter Naäman aan.Toe Naäman hom sien, het hy van sy wa afgeklim en na hom toe gegaan. Hy het vir Gehasi gevra: “Is alles reg?”

22. “Ja, dankie,” het hy geantwoord, “maar Elisa het my gou met ’n versoek gestuur. Hy sê daar het nou pas twee jong profete uit die bergland van Efraim by hom aangekom. Sal u asseblief vir hulle 34 kilogram silwer en twee stelle klere gee?”

23. Naäman het geantwoord: “Natuurlik ja, maar ek verdubbel dit. Vat 68 kilogram silwer vir hulle saam.” Hy het dadelik 68 kilogram silwer in twee geldsakke gesit. Hy het die geld en twee stelle klere vir sy assistente gegee om dit vir Gehasi huis toe te dra.

24. Toe hulle by die heuwel kom, het Gehasi die goed by hulle gevat en hulle teruggestuur. Hy het die geskenke in die huis gaan wegsteek.

25. Toe hy weer by Elisa kom, het Elisa vir hom gevra: “Waar was jy, Gehasi?”“Ek was nêrens heen nie,” het hy geantwoord.

26. Maar Elisa het gesê: “Gehasi, ek was in die gees dáár toe ’n man van sy wa afgeklim het om jou te ontmoet. Dis tog nie nou die tyd om geld en klere in die hande te kry, of om olyfboorde, wingerde, skape en beeste of slawe en slavinne bymekaar te maak nie!

27. Omdat jy dit gedoen het, gaan jy en jou nageslag altyd aan die velsiekte ly waarvan Naäman so pas gesond geword het.”Toe Gehasi van Elisa af weggaan, was sy vel reeds spierwit uitgeslaan van die siekte.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 5