Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 4:30-39 Die Boodskap (DB)

30. Die vrou het egter gesê: “So seker as die Here en u leef, ek sal nie huis toe gaan as u nie saamkom nie!” Elisa het toe saam met haar gegaan.

31. Gehasi het vinnig vooruitgegaan en Elisa se kierie op die kind se gesig neergesit. Niks het egter gebeur nie, daar was geen teken van lewe nie. Hy het teruggegaan na Elisa toe en gesê: “Die kind is nog steeds dood.”

32. Toe Elisa in die huis kom, was die situasie onveranderd. Die liggaampie het steeds op Elisa se bed gelê.

33. Hy het alleen in die kamer ingegaan en die deur gesluit. Toe het hy ernstig tot die Here gebid.

34. Hy het op die kind gaan lê. Hy het met sy kop op die kind se koppie, sy oë oor die kind se ogies en sy hande op die kind se handjies gaan lê. Geleidelik het die liggaampie weer warm geword.

35. Elisa het opgestaan en ’n keer in die kamer op en af geloop en toe weer op die kind gaan lê. Toe het die seun sewe keer genies en sy oë oopgemaak!

36. Elisa het dadelik vir Gehasi geroep en gesê: “Gaan haal gou die kind se ma!” Toe sy inkom, het hy vir haar gesê: “Hier is jou kind!”

37. Sy het dankbaar voor hom neergesak, die kind opgetel en hom ondertoe gedra.

38. Elisa is toe terug Gilgal toe. Daar was in dié tyd ’n hongersnood in daardie omgewing. Die dorp se profetegroep het by Elisa vergader. Hy het vir Gehasi gesê: “Sit ’n groot pot op die vuur en maak ’n bredie vir ons om te eet.”

39. Een van die manne het uitgegaan veld toe om te help kruie pluk vir die bredie. Hy het op ’n wilde rankplant met vrugte afgekom en ’n klomp daarvan gepluk. Hy het die vrugte in die bredie ingesny sonder dat hy geweet het wat dit was.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 4