Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 25:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Dit was in die negende jaar wat Sedekia regeer het. Op die tiende dag van die tiende maand het Nebukadnesar met sy hele leër by Jerusalem opgedaag en die stad omsingel. Die inwoners is van die buitewêreld afgesny.

2. Hulle het die stad byna twee jaar lank so beleër.

3. Teen die negende dag van die vierde maand van die elfde jaar wat Sedekia regeer het, was daar glad nie meer kos vir die mense nie.

4. Dié nag is daar ’n gat deur die stadsmuur gebreek en die soldate het probeer vlug. Al het hulle geweet dat die Babiloniese soldate die stad omring, het hulle in die rigting van die Jordaanrivier probeer wegkom.

5. Die Babiloniese soldate het hulle egter agtervolg en die koning op die vlakte by Jerigo ingehaal en gevang.

6. Teen daardie tyd was sy hele leër al versprei soos hulle probeer vlug het. Sedekia is toe na die koning van Babel in Ribla geneem. Hulle het hom net daar verhoor.

7. Hy moes kyk hoe sy seuns doodgemaak word en toe is sy oë uitgesteek. Daarna is hy met ’n ketting vasgemaak en na Babel toe weggevat.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 25