Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:26-37 Die Boodskap (DB)

26. Die Here het egter nie sy besluit oor Juda verander nie. Hy was nog altyd woedend oor die dinge wat Manasse gedoen het.

27. Die Here het besluit: “Ek gaan van Juda ontslae raak soos wat Ek van Israel ontslae geraak het. Ook Jerusalem wat Ek self gekies het en die tempel waarvan Ek vroeër gesê het: ‘Dit is die plek waar Ek sal woon,’ verwerp Ek nou.”

28. Die res van Josia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.

29. Terwyl Josia koning was, het farao Neko, die koning van Egipte, na die Eufraatrivier toe gegaan om die koning van Assirië te gaan help. Josia wou dit keer en het met sy leër teen die farao gaan veg. Hulle het mekaar by Megiddo ontmoet, maar Neko het Josia doodgemaak.

30. Josia se lyfwagte het sy lyk op ’n strydwa gesit en hom teruggevat Jerusalem toe. Daar is hy in sy graf begrawe en die mense van die land het sy seun Joahas in sy plek koning gemaak.

31. Joahas was 23 toe hy koning geword het en hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Gamutal, ’n dogter van Jeremia uit Libna.

32. Die Here was nie tevrede met die dinge wat Joahas gedoen het nie. Hy het die slegte voorbeeld van sy voorouers gevolg.

33. Farao Neko het Joahas gevang en in Ribla in die land Hamat opgesluit, sodat hy nie in Jerusalem kon regeer nie. As straf het Neko drie en ’n half ton silwer en 34 kilogram goud van Juda geëis.

34. Hy het toe vir Eljakim, ’n ander seun van Josia, in Jerusalem koning gemaak en sy naam na Jojakim verander. Hy het ook vir Joahas saamgevat Egipte toe, waar hy later dood is.

35. Jojakim moes die boete aan farao Neko betaal. Om dit te kon doen moes almal in Juda belasting betaal. Elkeen moes betaal volgens hulle rykdom.

36. Jojakim was 25 toe hy koning geword het en hy het elf jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Sebida, ’n dogter van Pedaja uit Ruma.

37. Die Here was nie tevrede met wat Jojakim gedoen het nie. Hy het die slegte voorbeeld van sy voorouers gevolg.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23