Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 2:9-22 Die Boodskap (DB)

9. Aan die ander kant het Elia vir Elisa gevra: “Wat kan ek nog vir jou doen voordat ek van jou af weggeneem word?” Elisa het geantwoord: “Laat ek as seun wat eerste gebore is, ’n dubbele porsie erf.”

10. Elia sê toe: “Jy het iets moeiliks gevra. As jy my kan sien wanneer ek van jou af weggaan, sal dit gebeur. Maar as jy my nie kan sien nie, sal dit nie gebeur nie.”

11. Terwyl hulle so geloop en praat het, kom daar skielik ’n wa van vuur, getrek deur perde van vuur, tussen hulle twee in. Elia is só in ’n stormwind na die hemel toe weggeneem.

12. Elisa het dit sien gebeur en uitgeroep: “My vader! My vader! U is Israel se strydwa en ruiters!” Toe hy Elia nie meer kon sien nie, het hy van hartseer sy mantel in twee stukke geskeur.

13. Elia se mantel het in die harwar van hom afgeval. Elisa het dit opgetel en na die Jordaanrivier teruggegaan.

14. Hy het die water met die mantel geslaan en uitgeroep: “Waar is die Here, Elia se God?” Die water het weer verdeel en hy het deur die rivier gestap.

15. Die profete van Jerigo wat alles op ’n afstand staan en dophou het, het opgewonde geroep: “Nou is Elisa Elia se waardige opvolger!” Hulle het na hom toe gegaan en voor hom gebuig.

16. Hulle het gesê: “Hier tussen ons is 50 sterk jongmanne tot u beskikking. Spreek net die woord dan sal ons u leier gaan soek! Miskien het die Here se Gees hom opgeraap en êrens op ’n berg of in ’n vallei neergesit.” “Nee, los dit maar,” het Elisa geantwoord, “moet hulle nie stuur nie.”

17. Maar hulle het só aangehou dat hy later ingestem het. Die 50 manne het drie dae lank na Elia gesoek, maar hom nie gekry nie.

18. Elisa was nog in Jerigo toe hulle teruggekom het. Hy vra hulle toe: “Het ek nie gesê julle kan dit maar los nie?”

19. Die mense van Jerigo het vir Elisa gesê: “Ons het ’n probleem. Soos jy kan sien, is ons dorp mooi geleë, maar die water is sleg. Dit veroorsaak onvrugbaarheid by mens en dier.”

20. Elisa sê toe: “Bring vir my ’n splinternuwe skottel vol sout.” Hulle het dit vir hom gaan haal.

21. Hy stap toe na die oog van die fontein en gooi die sout daarin terwyl hy sê: “Die Here sê: ‘Ek het die water nou gesond gemaak. Dit sal nie weer dood of onvrugbaarheid veroorsaak nie.’”

22. En so was dit! Die water is nog altyd gesond, net soos Elisa gesê het dit sou wees.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 2