Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:24-36 Die Boodskap (DB)

24. Jy sal met jou weermaggie nie eers teen die swakste afdeling van die Assiriese leër kan veg nie. Selfs al hoop jy dat Egipte se ruiters en strydwaens jou sal kom help, sal julle niks kan uitrig nie.

25. “Dink jy miskien ons het jou land sonder die Here se leiding aangeval? Hy het self vir ons gesê: ‘Gaan val hulle aan en vernietig die land!’”

26. Eljakim, Sebna en Joag het by die Assiriese gesant gepleit: “Praat asseblief Aramees met ons, want ons verstaan dit. Moenie Hebreeus praat nie, want ons mense op die mure sal hoor wat u vir ons sê.”

27. Die hoofgesant het geantwoord: “Dink julle my koning het ons gestuur om net met julle of julle koning te praat? Hy wil hê almal in Jerusalem moet die boodskap hoor. As julle nie oorgee nie, gaan ons julle stad beleër. Die mense van Jerusalem gaan nog so honger en dors word dat hulle hulle eie ontlasting gaan eet en hulle eie water gaan drink!”

28. Die Assiriese hoofgesant het toe baie hard in Hebreeus vir die mense van Jerusalem geskree:

29. “Luister na die groot koning van Assirië se boodskap. Hy sê: Moenie na Hiskia luister nie! Hy sal julle nooit teen my kan beskerm nie.

30. Moet hom ook nie vertrou as hy sê nie: ‘Die Here sal ons red! Hy sal nie toelaat dat die Assiriese koning die stad verower nie.’

31. “Moenie na Hiskia luister nie! Die koning van Assirië bied die volgende voorwaardes vir vrede aan: Maak die hekke oop en kom uit die stad uit. Dan sal ek elkeen toelaat om vrugte uit sy eie tuin te eet en water uit sy eie put te drink.

32. Daarna sal julle na ’n ander land geneem word wat goed met Juda vergelyk. Daar sal graan en druiwe wees vir kos en wyn, met olywe en heuning. Dit is ’n land van oorvloed. Kies om te bly lewe, anders gaan ek julle doodmaak!“Moenie na Hiskia luister as hy julle mislei deur te sê: ‘Die Here sal ons red!’ nie.

33. Het die gode van enige ander land al ooit hulle mense van die koning van Assirië gered?

34. Dink maar aan die gode van Hamat en Arpad, of die gode van Sefarwajim, Hena of Awwa. Wie kon Samaria teen my beskerm?

35. Noem vir my een enkele god wat sy land teen my mag kon beskerm. Hoe kan julle dan dink dat die Here Jerusalem teen my sal kan beskerm?”

36. Die soldate het net stilgebly, want Hiskia het hulle beveel om die Assiriërs glad nie te antwoord nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18