Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:20-30 Die Boodskap (DB)

20. Dink jy dalk jou woorde is ’n antwoord op my militêre strategie en krag? Op wie steun jy dat jy dit waag om teen my in opstand te kom?

21. “Dink jy Egipte gaan jou teen my help? Egipte is net so min werd soos ’n geknakte riet wat ’n mens as kierie probeer gebruik. As jy op hom druk, steek hy deur jou hand. Die koning van Egipte het al sy vriende nog altyd in die steek gelaat.

22. “Of dink julle dalk by julleself: ‘Ons vertrou op die Here, ons God’? Julle spot seker! Hiskia het Hom mos beledig en al sy altare en heilige plekke afgebreek. Toe het Hiskia self beveel: ‘Almal in Juda mag die Here net by die heiligdom in Jerusalem kom aanbid.’

23. “Kom ons maak ’n weddenskap! My baas, die koning van Assirië, sal vir jou 2 000 perde gee, as jy 2 000 ruiters het om hulle te ry.

24. Jy sal met jou weermaggie nie eers teen die swakste afdeling van die Assiriese leër kan veg nie. Selfs al hoop jy dat Egipte se ruiters en strydwaens jou sal kom help, sal julle niks kan uitrig nie.

25. “Dink jy miskien ons het jou land sonder die Here se leiding aangeval? Hy het self vir ons gesê: ‘Gaan val hulle aan en vernietig die land!’”

26. Eljakim, Sebna en Joag het by die Assiriese gesant gepleit: “Praat asseblief Aramees met ons, want ons verstaan dit. Moenie Hebreeus praat nie, want ons mense op die mure sal hoor wat u vir ons sê.”

27. Die hoofgesant het geantwoord: “Dink julle my koning het ons gestuur om net met julle of julle koning te praat? Hy wil hê almal in Jerusalem moet die boodskap hoor. As julle nie oorgee nie, gaan ons julle stad beleër. Die mense van Jerusalem gaan nog so honger en dors word dat hulle hulle eie ontlasting gaan eet en hulle eie water gaan drink!”

28. Die Assiriese hoofgesant het toe baie hard in Hebreeus vir die mense van Jerusalem geskree:

29. “Luister na die groot koning van Assirië se boodskap. Hy sê: Moenie na Hiskia luister nie! Hy sal julle nooit teen my kan beskerm nie.

30. Moet hom ook nie vertrou as hy sê nie: ‘Die Here sal ons red! Hy sal nie toelaat dat die Assiriese koning die stad verower nie.’

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18