Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:30-41 Die Boodskap (DB)

30. Die volgende gode is vereer:Sukkot-Benot deur die mense van Babel;Nergal deur die mense van Kuta;Asima deur die mense van Hamat;

31. Nibgas en Tartak deur die mense van Awwa;Adrammelek en Anammelek deur die mense van Sefarwajim. Dié mense het selfs hulle kinders as offers vir die twee gode verbrand.

32. Die nuwe mense het die Here ook vereer, maar hulle het self vir hulle priesters aangestel om by die heilige plekke vir hulle offers te bring.

33. Terwyl hulle die Here gedien het, het hulle ook aangehou met die godsdienstige gebruike waaraan hulle voorheen gewoond was.

34. Dit gaan vandag nog so aan. Hulle hou by hulle tradisionele gebruike in plaas daarvan om die Here werklik te dien. Hulle behoort sy wette, reëls en riglyne te gehoorsaam, soos Hy dit vir die nageslag van Jakob, wie se naam Hy na Israel verander het, beveel het.

35. Die Here het met die nageslag van Jakob ’n ooreenkoms aangegaan. Hy het gesê: “Moenie ander gode op enige manier vereer nie, moenie voor hulle buig of vir hulle offers bring nie.

36. Julle mag net die Here vereer. Dit is Hy wat sterk genoeg was om julle uit Egipte te bevry. Hóm mag julle vereer deur voor Hom te buig en offers te bring.

37. Die wette, reëls en riglyne wat Hy vir julle voorgeskryf het, moet julle gehoorsaam. Julle mag nie ander gode dien nie.

38. Onthou van die ooreenkoms wat Ek met julle gesluit het en moenie ander gode vereer nie.

39. Julle mag net die Here, julle God, vereer. Hy is die Een wat julle van julle vyande sal red.”

40. Maar die mense het nie geluister nie. Hulle het aangehou met hulle ou gebruike.

41. So het hulle die Here wel vereer, maar tegelyk ook hulle afgode bly dien. Hierin is hulle deur hulle kinders en kleinkinders nagevolg en dit hou vandag nog so aan.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17