Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 15:29-36 Die Boodskap (DB)

29. In Peka se tyd het Tiglat-Pileser van Assirië Israel weer aangeval. Hy het die stede Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor ingeneem. Daarby het hy die streke Gilead en Galilea, die hele stamgebied van Naftali, afgeneem en die mense as gevangenes na Assirië weggeneem.

30. Ela se seun Hosea het intussen ’n staatsgreep teen Peka beplan. Hy het hom aangeval en doodgemaak en in sy plek koning geword oor Israel. Dit het gebeur in die twintigste jaar wat koning Jotam van Juda, Asarja se seun, regeer het.

31. Die res van Peka se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

32. In die tweede jaar wat koning Peka in Israel regeer het, het Jotam, die seun van Asarja, koning in Juda geword.

33. Jotam was 25 toe hy koning geword het en het sestien jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jerusa, ’n dogter van Sadok.

34. Die Here was tevrede met wat Jotam gedoen het, soos dit met sy pa Asarja die geval was.

35. Hy het egter nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om diere daar te gaan offer en wierook te brand. Dit was Jotam wat die Boonste Poort van die tempel van die Here herstel het.

36. Die res van Jotam se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 15