Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 13:15-25 Die Boodskap (DB)

15. Elisa het vir hom gesê: “Vat jou pyl en boog.” Die koning het dit gedoen

16. en toe sê Elisa: “Sit nou jou hande op die boog.” Hy het dit ook gedoen. Toe sit Elisa sy hande bo-oor die koning se hande.

17. Daarop sê Elisa: “Maak die venster na die oostekant toe oop!” Die koning het dit gedoen. Toe sê Elisa: “Skiet!” Toe hy geskiet het, sê Elisa: “Dit is die Here se pyl van oorwinning oor Aram, want jy sal die Arameërs volkome by Afek verslaan.

18. Vat nou die ander pyle en slaan hulle teen die grond.”Die koning het die pyle gevat en drie keer teen die grond geslaan.

19. Dit het Elisa kwaad gemaak en hy het vir die koning gesê: “Jy moes ten minste vyf of ses keer teen die grond geslaan het! Dan sou jy die Arameërs behoorlik verslaan het. Nou sal jy hulle net drie keer verslaan.”

20. Daarna is Elisa dood en hulle het hom begrawe.Bendes uit Moab het Israel elke lente binnegeval.

21. Eenkeer was ’n klompie Israeliete besig om ’n man te begrawe toe hulle een van die bendes opmerk. Hulle het die lyk toe sommer in Elisa se graf gegooi. Toe sy liggaam aan Elisa se bene raak, het hy lewendig geword en opgestaan!

22. Koning Gasael van Aram het Israel gedurende Joahas se hele regeringstyd onderdruk.

23. Maar die Here was die Israeliete genadig sodat hulle nie heeltemal vernietig is nie. Hy het hulle ter wille van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob jammer gekry en tot nog toe nie vernietig en verwerp nie.

24. Gasael, die koning van Aram, is dood en sy seun Ben-Hadad het hom opgevolg.

25. Joas, die seun van Joahas, het die Israelitiese stede van Ben-Hadad teruggeneem wat Ben-Hadad se pa Gasael vroeër van Joahas verower het. Joas het Ben-Hadad drie keer verslaan en só die stede van Israel teruggeneem.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 13