Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 4:5-15 Die Boodskap (DB)

5. Toe die ark van die Here in die kamp kom, het al die Israeliete geskreeu dat die aarde bewe.

6. Die Filistyne het die harde geskree gehoor en gevra: “Watse vreeslike geskree is dit daar in die Hebreërs se kamp?” Toe hulle hoor dat die ark van die Here in die kamp aangekom het,

7. het hulle bang geword en vir mekaar gesê: “Hulle God het in die kamp aangekom! Ons is in die moeilikheid! So iets het nog nooit gebeur nie!

8. Ons is in die moeilikheid! Wie sal ons help teen hierdie magtige God? Dis dieselfde God wat die Egiptenaars in die woestyn so laat swaarkry het met al die plae.

9. Vandag moet julle sterk staan, Filistyne! Wys julle is manne! As julle dit nie doen nie, word julle die Hebreërs se slawe soos hulle júlle slawe is. Wys julle is manne en veg!”

10. Die Filistyne het aangeval en die Israeliete het die geveg verloor. Al die Israeliete het weggehardloop huis toe. Dit was ’n groot slagting: 30 000 voetsoldate van Israel is dood.

11. Die ark van God het in die slag gebly en Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, is ook dood.

12. ’n Man van die Benjaminstam het van die geveg af weggehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop.

13. Eli het op ’n stoel langs die pad gesit en wag vir nuus, want hy was baie bekommerd oor die ark van God. Toe die man met die nuus in die dorp aankom, het al die mense so geskrik dat hulle sommer hard geskree het.

14. Eli het die geskree gehoor en gevra: “Watse geraas is dit?” Die boodskapper het gou na Eli toe gehardloop om vir hom te vertel wat gebeur het.

15. Eli was al 98 jaar oud en hy was stokblind.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 4