Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 4:3-10 Die Boodskap (DB)

3. Toe die volk by die kamp terugkom, het die leiers van Israel gesê: “Hoekom het die Here ons vandag só ver teen die Filistyne laat verloor? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here in Silo. As Hy by ons is, sal Hy ons teen ons vyande help.”

4. Die volk het toe die verbondsark van die magtige Here wat op die gerubs sit, in Silo laat haal. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, het saam met die ark van God gekom.

5. Toe die ark van die Here in die kamp kom, het al die Israeliete geskreeu dat die aarde bewe.

6. Die Filistyne het die harde geskree gehoor en gevra: “Watse vreeslike geskree is dit daar in die Hebreërs se kamp?” Toe hulle hoor dat die ark van die Here in die kamp aangekom het,

7. het hulle bang geword en vir mekaar gesê: “Hulle God het in die kamp aangekom! Ons is in die moeilikheid! So iets het nog nooit gebeur nie!

8. Ons is in die moeilikheid! Wie sal ons help teen hierdie magtige God? Dis dieselfde God wat die Egiptenaars in die woestyn so laat swaarkry het met al die plae.

9. Vandag moet julle sterk staan, Filistyne! Wys julle is manne! As julle dit nie doen nie, word julle die Hebreërs se slawe soos hulle júlle slawe is. Wys julle is manne en veg!”

10. Die Filistyne het aangeval en die Israeliete het die geveg verloor. Al die Israeliete het weggehardloop huis toe. Dit was ’n groot slagting: 30 000 voetsoldate van Israel is dood.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 4