Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 3:5-18 Die Boodskap (DB)

5. en gou na Eli toe gegaan. “U het my geroep. Het u my nodig?” het hy gevra. “Nee, ek het jou nie geroep nie,” het Eli geantwoord. “Gaan lê maar weer.” Hy het toe weer gaan lê.

6. Die Here het weer geroep: “Samuel!” Samuel het opgestaan en na Eli toe gegaan en vir hom gesê: “U het my geroep. Het u my nodig?” Eli het weer geantwoord: “Nee, ek het jou nie geroep nie, my kind. Gaan lê maar weer.”

7. Samuel het toe nog nie die Here geken nie, want die Here het nog nie met hom gepraat nie.

8. Die Here het Samuel die derde keer geroep. Hy het na Eli toe gegaan en gesê: “U het my geroep. Het u my nodig?” Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het.

9. Eli sê toe vir Samuel: “Gaan lê, en as Hy jou weer roep, sê jy: ‘Praat maar, Here, u dienaar luister.’” Samuel het weer op sy plek gaan lê.

10. Die Here het gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel! Samuel!”Toe antwoord Samuel: “Praat maar, u dienaar luister.”

11. Die Here het toe vir Samuel gesê: “Ek gaan binnekort iets in Israel doen wat elkeen wat dit hoor, se twee ore sal laat tuit.

12. Op daardie dag sal Ek alles doen waarmee Ek Eli gedreig het.

13. Ek het al vir hom gesê dat Ek sy familie vir altyd gaan straf vir die sonde waarvan hy geweet het, maar waaraan hy niks gedoen het nie: sy seuns het baie lelike dinge gedoen, maar hy het hulle nie vasgevat nie.

14. Daarom het Ek vir Eli se familie gesweer: die sonde van Eli se familie sal nooit reggestel kan word met enige offer nie.”

15. Samuel het tot die môre bly lê en die deure van die Here se tempel oopgemaak. Hy was te bang om vir Eli te vertel wat in die nag gebeur het.

16. Eli roep toe vir Samuel: “Samuel, my kind, kom hier!” Hy antwoord toe: “Ja, het u my nodig?”

17. Eli vra vir hom: “Wat het die Here vir jou gesê? Moet niks vir my wegsteek nie. God sal jou baie swaar straf as jy vir my enigiets wegsteek wat Hy vir jou gesê het.”

18. Samuel het hom toe alles vertel; hy het niks geheim gehou nie. Eli het daarop geantwoord: “Hy is die Here. Hy sal doen wat Hy wil.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 3