Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 24:6-16 Die Boodskap (DB)

6. Maar nadat hy dit gedoen het, het hy sleg gevoel daaroor.

7. Hy sê toe vir sy manne: “Die Here bewaar my daarvan dat ek so ver sou gaan om my hand op te lig teen my koning, die man wat die Here vir Hom gekies het. Hy is tog die Here se gesalfde!”

8. Dawid het baie ernstig met sy manne gepraat. Hy het hulle nie toegelaat om enigiets aan Saul te doen nie. Toe Saul opstaan en uit die grot uitgaan,

9. het Dawid agter hom aangegaan. Hy het na Saul geroep: “U Majesteit!”Toe Saul omkyk, gaan staan Dawid op sy knieë en buig met sy gesig teen die grond.

10. Hy sê vir Saul: “Hoekom luister u na mense wat sê ek wil u uit die pad kry?

11. U besef tog self dat die Here u vandag hier in die grot aan my oorgegee het. My manne het gesê ek moet u doodmaak, maar ek het u jammer gekry en gesê ek sal nie my hand lig teen my koning nie, want hy is die Here se gesalfde.

12. Kyk hier, my vader, hier het ek ’n stuk van u mantel. Ek het dit afgesny sonder om u dood te maak! Dis tog die bewys dat ek nie teen u in opstand is of iets slegs beplan of u te na wil kom nie, al probeer u om my dood te maak.

13. Die Here sal besluit wie van ons twee is reg, en die Here sal dalk op u wraak neem oor my, maar ék sal nooit my hand teen u oplig nie.

14. Daar is mos ’n ou spreekwoord wat sê: Net kwaaddoeners doen kwaad. Daarom sal ek nooit my hand teen u oplig nie.

15. Buitendien, teen wie het die koning van Israel nou eintlik uitgetrek? U is agter ’n dooie hond, agter een ou sandluisie aan!

16. Die Here sal regter wees en die saak tussen ons uitmaak, want Hy sien alles raak. Hy sal my help en wys dat ek nie skuldig is nie.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 24