Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 21:2-9 Die Boodskap (DB)

2. Dawid sê toe vir priester Agimelek: “Die koning het my gestuur, maar hy het gesê ek mag vir niemand vertel waarheen hy my stuur en wat hy vir my gesê het nie. Ek sal my manskappe op ’n sekere plek kry.

3. Maar sê my, wat het jy wat ’n mens kan eet? Gee my so vyf brode of wat jy ook al het.”

4. Die priester sê toe vir Dawid: “Ek het nie gewone brood nie, net tempelbrood. Jy kan dit kry op voorwaarde dat jou manskappe rein is en nie seks gehad het nie.”

5. “Maar natuurlik was ons nie by vroue nie,” antwoord Dawid. “Die manne is rein soos altyd wanneer ons gaan oorlog maak. Al is hierdie ’n gewone ding wat ons moet gaan doen, is die manne vir seker rein.”

6. Die priester gee toe vir hom die tempelbrood, want daar was nie ander brood nie. Die enigste brood was dié wat die priesters by die altaar weggevat het toe hulle weer vars brood daar moes neersit.

7. Een van Saul se werkers was daardie dag ook om die een of ander rede in die tempel. Sy naam was Doëg. Hy het uit Edom gekom en was die baas van Saul se skaapwagters.

8. Dawid vra toe vir Agimelek: “Het jy nie dalk ’n spies of ’n swaard hier nie? Die koning het my so haastig gestuur, ek kon nie eers my spies of swaard of ander wapens vat nie.”

9. Die priester antwoord hom: “Goliat, die Filistyn wat jy in Eikelaagte doodgemaak het, se swaard is hier. Dis toegedraai in ’n mantel daar agter die priestersak. As jy dit wil hê, kan jy dit kry. Dis die enigste swaard wat hier is.”“Daar is nie nóg so ’n swaard nie,” sê Dawid. “Gee hom vir my.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 21