Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 20:33-43 Die Boodskap (DB)

33. Toe mik Saul om Jonatan met die spies te gooi. Hy wou hom doodgooi. Jonatan het dadelik geweet sy pa het vas besluit om Dawid dood te maak.

34. Hy was baie kwaad en het van die tafel af opgestaan. Daardie hele dag het hy niks geëet nie. Hy was te ontsteld oor Dawid, oor sy pa hom wou doodmaak.

35. Die volgende môre is Jonatan saam met ’n jong seun veld toe, soos hy met Dawid afgespreek het.

36. Hy sê toe vir die knaap: “Hardloop en gaan haal die pyl wat ek skiet.” Die seun hardloop, en Jonatan skiet die pyl bo-oor hom.

37. Toe die seun by die plek kom waar die pyl moet lê, skree Jonatan vir hom: “Lê die pyl nie nog verder nie?”

38. En hy skree ook vir hom: “Maak baie gou! Moenie wag nie!”Die seun het die pyl opgetel en vir Jonatan gebring.

39. (Die knaap het niks van die hele affêre geweet nie; net Jonatan en Dawid het daarvan geweet.)

40. Jonatan gee toe sy wapens vir die seun en sê vir hom: “Vat dit terug dorp toe!”

41. Toe die seun weg is, het Dawid agter die rots uitgekom. Hy het op sy knieë gaan staan en drie keer met sy gesig teen die grond gebuig. Toe omhels hulle mekaar en huil op mekaar se skouers totdat Dawid hom regruk.

42. Jonatan sê toe vir Dawid: “Jy kan maar gaan. Jy is veilig, want ons twee het in die Naam van die Here ’n belofte aan mekaar gemaak; en die Here sal altyd sorg dat ek en jy en ons kinders daardie belofte nakom.”

43. Dawid het toe sy goed gevat en weggegaan, en Jonatan is terug dorp toe.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 20