Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 2:3-22 Die Boodskap (DB)

3. Mense moet ophou met hulle grootpratery, met hulle astrante woorde. Die Here weet alles; Hy kyk wat die mense doen.

4. Die boë van die sterk mense is gebreek, maar die swak mense wat wou val, is nou sterk.

5. Die mense wat baie kos gehad het, moet nou werk vir ’n bietjie kos, en dié wat honger was, is heeltemal versadig. Die vrou wat nie kon kinders kry nie, het nou sewe kinders, en met die een wat baie kinders gehad het, gaan dit sleg.

6. Die Here maak dood en Hy maak lewendig. Hy laat mense afgaan in die graf en Hy laat mense daaruit opstaan.

7. Die Here maak arm en Hy maak ryk. Hy verneder en Hy verhoog.

8. Hy laat onbelangrike mense uit die stof opstaan; Hy tel die armes van die ashoop af op. Hy laat hulle by belangrike mense sit; Hy gee hulle ’n spesiale plek.Dit is seker: die pilare van die aarde is die Here s’n; Hy maak die aarde daarop vas.

9. Hy help dié wat aan Hom getrou is, dat hulle nie val nie, maar slegte mense se lewe eindig in die donker. ’n Mens word nie met jou eie krag ’n held nie;

10. die Here slaan dié wat Hom teëgaan stukkend.In die hemel dreun die stem van die hoë God; die Here is regter oor die hele wêreld. Hy gee mag aan die koning wat Hy kies; Hy maak sy gesalfde sterk.

11. Elkana het teruggegaan na sy huis in Rama, maar die seuntjie, Samuel, het agtergebly en onder toesig van Eli in die tempel gehelp.

12. Eli se seuns was twee niksnutte; hulle het geen respek vir die Here gehad nie.

13. Priesters het ’n sekere reg gehad wanneer iemand geoffer het. Terwyl die offervleis gekook word, kom die leerlingpriester met ’n drietandvurk

14. en steek dit in die bak of pan of kookpot of kleipot. Alles wat aan die vurk vassit, is die priester s’n. So het hulle met al die Israeliete gemaak wat in Silo kom offer het.

15. Maar nie Eli se seuns nie! Nog voor die vet vir die Here op die altaar verbrand word, kom die jong man en sê vir die een wat offer: “Gee van die vleis vir die priester om te braai. Hy wil nie gekookte vleis hê nie; jy moet vir hom rou vleis gee.”

16. As die man vir hom sê: “Wag net eers tot die Here se deel verbrand is, dan kan jy vir jou vat wat jy wil,” sê die jong man: “Nee, gee dit dadelik, en as jy dit nie doen nie, vat ek dit met geweld!”

17. Dit was ’n baie verkeerde ding wat dié twee jong mans daar in die tempel gedoen het, dat hulle so min respek gehad het vir die offers van die Here.

18. Samuel het in die tempel gehelp; ’n klein seuntjie wat die klere van ’n priester dra.

19. Sy ma het ook elke jaar vir hom ’n klein manteltjie gemaak en dit saamgevat wanneer sy saam met haar man Silo toe gegaan het vir die jaar se offer.

20. Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en vir hom gesê: “Mag die Here vir jou by hierdie vrou nog kinders gee in die plek van die een wat sy van die Here gevra en weer aan Hom teruggegee het.” Daarna het hulle huis toe gegaan.

21. Die Here hét toe aan Hanna aandag gegee: sy het weer ’n baba verwag. Sy het daarna nog drie seuns en twee dogters gehad. Haar seuntjie Samuel het by die Here grootgeword.

22. Eli was al baie oud. Hy het gehoor wat sy seuns alles aan die Israeliete doen, en dat hulle selfs by die vroue geslaap het wat by die ingang van die tempel werk.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 2