Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 2:15-28 Die Boodskap (DB)

15. Maar nie Eli se seuns nie! Nog voor die vet vir die Here op die altaar verbrand word, kom die jong man en sê vir die een wat offer: “Gee van die vleis vir die priester om te braai. Hy wil nie gekookte vleis hê nie; jy moet vir hom rou vleis gee.”

16. As die man vir hom sê: “Wag net eers tot die Here se deel verbrand is, dan kan jy vir jou vat wat jy wil,” sê die jong man: “Nee, gee dit dadelik, en as jy dit nie doen nie, vat ek dit met geweld!”

17. Dit was ’n baie verkeerde ding wat dié twee jong mans daar in die tempel gedoen het, dat hulle so min respek gehad het vir die offers van die Here.

18. Samuel het in die tempel gehelp; ’n klein seuntjie wat die klere van ’n priester dra.

19. Sy ma het ook elke jaar vir hom ’n klein manteltjie gemaak en dit saamgevat wanneer sy saam met haar man Silo toe gegaan het vir die jaar se offer.

20. Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en vir hom gesê: “Mag die Here vir jou by hierdie vrou nog kinders gee in die plek van die een wat sy van die Here gevra en weer aan Hom teruggegee het.” Daarna het hulle huis toe gegaan.

21. Die Here hét toe aan Hanna aandag gegee: sy het weer ’n baba verwag. Sy het daarna nog drie seuns en twee dogters gehad. Haar seuntjie Samuel het by die Here grootgeword.

22. Eli was al baie oud. Hy het gehoor wat sy seuns alles aan die Israeliete doen, en dat hulle selfs by die vroue geslaap het wat by die ingang van die tempel werk.

23. Hy het vir hulle gesê: “Hoekom doen julle dit? Ek moet by al die mense net altyd slegte dinge van julle hoor.

24. Nee, my seuns, dis regtig nie ’n mooi storie wat die volk van die Here rondvertel nie.

25. As ’n mens teen iemand anders iets verkeerds doen, kan die regters jou miskien help. Maar wie sal jou help as jy teen die Here sondig?” Maar hulle het hulle nie aan hulle pa gesteur nie. Die Here was vir seker van plan om hulle dood te maak.

26. Samuel het groter geword en die Here en die mense het baie van hom gehou.

27. Daar het ’n man wat God gestuur het by Eli gekom met hierdie boodskap van die Here af: “Toe jou familie in Egipte, in die land van die farao was, het Ek vir hulle mooi gesê dat Ek die Here is.

28. Ek het jou familie gekies uit al die families van Israel om by my altaar te werk, om wierook te brand, om my priesters te wees en om vir die mense te sê wat Ek wil hê. Ek het ook vir jou familie ’n deel van die offers gegee wat die Israeliete bring.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 2