Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14:24-39 Die Boodskap (DB)

24. Die Israeliete het daardie dag harde bene gekou, want Saul het die manskappe voorgesweer: “So waar as die Here leef, enigiemand wat voor vanaand iets eet voor ek wraak geneem het op my vyande, sal doodgemaak word.” Niemand het aan iets geproe nie.

25. Al die manskappe moes deur ’n plek met baie bome gaan. Daar was byeneste in gate in die grond.

26. Toe die manne deur die bos gaan, sien hulle die vet heuningkoeke, maar niemand het dit gewaag om daaraan te proe nie, want hulle was bang oor die eed wat Saul gesweer het.

27. Maar Jonatan was nie by toe sy pa dit vir die manskappe gesê het nie. Hy steek die kierie wat hy in sy hand het se punt in ’n heuningkoek en lek dit af. Sy oë het sommer weer geblink.

28. Een van die manskappe praat toe met hom daaroor: “Jou pa het ons die dood voor oë gesweer en gesê: ‘Die man wat vandag iets eet, sal doodgemaak word.’ Daarom is die manskappe so gedaan.”

29. “My pa het die land baie skade aangedoen,” antwoord Jonatan. “Kyk hoe blink my oë nadat ek net ’n bietjie heuning geproe het.

30. Dit sou soveel beter gewees het as die manne vandag goed kon weglê aan die goed wat hulle by die Filistyne gevat het. Ons kon die Filistyne ’n nekslag gegee het.”

31. Daardie dag het die Israeliete van Mikmas af tot by Ajalon die Filistyne kafgeloop. Omdat die manskappe doodmoeg was,

32. het hulle teen die aand op die goed toegesak wat hulle van die Filistyne afgeneem het. Hulle het van die skape en bokke, koeie en kalwers gegryp en dit op die grond geslag en geëet sonder dat die bloed teen ’n altaar uitgegooi is.

33. Iemand gaan sê toe vir Saul: “Die mense sondig teen die Here as hulle die vleis eet voor die bloed teen ’n altaar uitgegooi is.” “Julle doen verkeerd,” sê Saul, “rol dadelik ’n groot klip nader.”

34. Daarop sê hy: “Laat weet al die manskappe: Elkeen moet sy bees of skaap hier na my toe bring en dit op hierdie klip slag. Dan kan julle eet en nie teen die Here sondig met die bloed van die diere nie.” Daardie aand het elkeen wat ’n dier wou slag, dit na die groot klip gebring en dit daar geslag.

35. So het Saul vir die Here ’n altaar met die klip gebou. Dit was die eerste keer dat hy so iets gedoen het.

36. Saul sê toe: “Ons gaan vannag in die vlakte agter die Filistyne aan. Ons vat hulle goed, jaag hulle tot die son uitkom en maak dan die laaste een dood.” “Maak soos u goeddink,” antwoord die manskappe. Maar die priester sê: “Kom ons hoor net eers wat God daarvan sê.”

37. Saul vra toe vir God wat hy moet doen: “Moet ek agter die Filistyne aangaan in die vlakte? Sal U hulle aan Israel oorgee?” Maar God het hom glad nie geantwoord nie.

38. “Bring al die leiers van die volk hier bymekaar,” sê Saul. “Ek wil weet watter verkeerde ding vandag gedoen is,

39. want sowaar as die Here, die Helper van Israel, leef, die een wat dit gedoen het, moet doodgemaak word, al is dit ook my seun Jonatan.” Maar niemand wou iets vir Saul sê nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 14