Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29:11-28 Die Boodskap (DB)

11. O Here, die grootheid, krag, glans, roem en majesteit behoort aan U. Ja, alles in die hemel en op aarde is U s’n. Aan U, Here, behoort die leierskap; U is hoër as almal.

12. Van U af kom alle rykdom en eer. U regeer oor alles. U deel mag en krag uit vir wie U wil. U kan enigiemand groot en sterk maak.

13. En nou dank ons U en prys u glansryke Naam,

14. want wie is ek en wie is my volk dat ons so ryk is om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af. Ons gee maar net aan U wat U vir ons gegee het.

15. Ons is net vir ’n kort tydjie hier op die aarde, blote besoekers soos ons voorouers voor ons. Ons tydjie op aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan so gou verby.

16. “Here ons God, al die goed wat ons bymekaargemaak het vir die tempel wat ons vir U wil bou, kom van U af en behoort aan U.

17. Ek weet, my God, dat U na opregtheid by mense soek. Ek het in alle opregtheid my bydrae gemaak. Nou het ek met die grootste vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, bereid is om hulle besittings ook vir U te gee.

18. “Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, wil U tog gee dat u volk lief bly vir U. Rig hulle harte altyd op U.

19. Gee dat my seun Salomo hom heeltemal sal hou by u wette, reëls en voorskrifte. Gee dat hy dit alles sal doen en dat hy die tempel waarvoor ek alles voorberei het, sal bou.”

20. Dawid het toe vir almal wat bymekaar was, gesê: “Prys nou die Here, julle God!” Daarop het hulle almal die Here, die God van hulle voorouers, geprys en voor Hom en die koning neergebuig.

21. Die volgende dag het hulle offerdiere geslag en ter wille van Israel brandoffers vir die Here gebring. Daar is 1 000 bulle, 1 000 ramme en 1 000 lammers geslag en drankoffers en ander soorte offers is gebring.

22. Hulle het met baie groot vreugde geëet en gedrink en geweet dat die Here daar by hulle teenwoordig is.Hulle het toe vir Salomo, Dawid se seun, vir die tweede keer as nuwe koning gekroon. Hulle het hom gesalf as hulle leier en vir Sadok as priester.

23. Salomo het op die troon wat die Here vir Dawid gegee het, gaan sit en sy pa opgevolg. Dit het baie goed met hom gegaan en die hele Israel was getrou aan hom.

24. Al die familiehoofde, die leiers en Dawid se ander seuns het hulle steun vir Salomo gegee.

25. Die Here het Salomo as koning baie eer gegee en almal het na hom opgesien. Hy het hom meer welvarend gemaak as enige koning in Israel voor hom.

26. Dawid, Isai se seun, het oor die hele Israel regeer.

27. Hy het 40 jaar lank in Israel regeer: sewe jaar uit Hebron en daarna vir 33 jaar uit Jerusalem.

28. Hy was oud toe hy dood is, nadat hy ’n lang lewe, welvaart en eer beleef het. Toe het sy seun Salomo hom opgevolg.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 29