hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29 Die Boodskap (DB)

Vrywillige bydraes vir die bou van die tempel

1. Koning Dawid het toe vir die hele vergadering gesê: “My seun Salomo, wat deur God self gekies is as volgende koning, is jonk en onervare, maar die werk is groot. Hierdie tempel is nie maar net nog ’n gebou nie. Dit word vir God die Here gebou.

2. Ek het alles bymekaargemaak wat nodig is vir die bou van die tempel: daar is goud, silwer, brons, yster, hout en oniks met die gesteentes om in te lê, mosaïeksteentjies vir mosaïekwerk, ’n klomp verskillende edelstene en baie marmer.

3. Omdat die huis van my God vir my so belangrik is, gee ek ook al die goud en silwer wat ek het om die bouwerk moontlik te maak.

4. Ek gee 103 ton van Ofir se goud en 240 ton suiwer silwer om die kamers se mure mee oor te trek

5. en vir die ander goud- en silwerwerk wat gedoen moet word. Wie is nog bereid om iets vir die Here te gee?”

6. Al die familiehoofde, die leiers van die stamme van Israel, die hoër en laer offisiere, en die verskillende amptenare van die koning was dadelik bereid om ook by te dra.

7. Hulle het 171 ton goud, 342 ton silwer, 616 ton brons en 3 427 ton yster gegee.

8. Dié wat edelstene by hulle gehad het, het dit aan Jegiël gegee vir die tempelskatte.

9. Dié volk was bly oor al die gawes, want hulle het dit vrywillig en met blydskap vir die Here gegee. Koning Dawid was ook baie bly.

Dawid se dankgebed

10. Dawid het toe die Here in die teenwoordigheid van die hele vergadering geprys: “Ek loof U, Here, God van ons voorvader Israel, vir altyd en altyd.

11. O Here, die grootheid, krag, glans, roem en majesteit behoort aan U. Ja, alles in die hemel en op aarde is U s’n. Aan U, Here, behoort die leierskap; U is hoër as almal.

12. Van U af kom alle rykdom en eer. U regeer oor alles. U deel mag en krag uit vir wie U wil. U kan enigiemand groot en sterk maak.

13. En nou dank ons U en prys u glansryke Naam,

14. want wie is ek en wie is my volk dat ons so ryk is om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af. Ons gee maar net aan U wat U vir ons gegee het.

15. Ons is net vir ’n kort tydjie hier op die aarde, blote besoekers soos ons voorouers voor ons. Ons tydjie op aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan so gou verby.

16. “Here ons God, al die goed wat ons bymekaargemaak het vir die tempel wat ons vir U wil bou, kom van U af en behoort aan U.

17. Ek weet, my God, dat U na opregtheid by mense soek. Ek het in alle opregtheid my bydrae gemaak. Nou het ek met die grootste vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, bereid is om hulle besittings ook vir U te gee.

18. “Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, wil U tog gee dat u volk lief bly vir U. Rig hulle harte altyd op U.

19. Gee dat my seun Salomo hom heeltemal sal hou by u wette, reëls en voorskrifte. Gee dat hy dit alles sal doen en dat hy die tempel waarvoor ek alles voorberei het, sal bou.”

20. Dawid het toe vir almal wat bymekaar was, gesê: “Prys nou die Here, julle God!” Daarop het hulle almal die Here, die God van hulle voorouers, geprys en voor Hom en die koning neergebuig.

Salomo word koning

21. Die volgende dag het hulle offerdiere geslag en ter wille van Israel brandoffers vir die Here gebring. Daar is 1 000 bulle, 1 000 ramme en 1 000 lammers geslag en drankoffers en ander soorte offers is gebring.

22. Hulle het met baie groot vreugde geëet en gedrink en geweet dat die Here daar by hulle teenwoordig is.Hulle het toe vir Salomo, Dawid se seun, vir die tweede keer as nuwe koning gekroon. Hulle het hom gesalf as hulle leier en vir Sadok as priester.

23. Salomo het op die troon wat die Here vir Dawid gegee het, gaan sit en sy pa opgevolg. Dit het baie goed met hom gegaan en die hele Israel was getrou aan hom.

24. Al die familiehoofde, die leiers en Dawid se ander seuns het hulle steun vir Salomo gegee.

25. Die Here het Salomo as koning baie eer gegee en almal het na hom opgesien. Hy het hom meer welvarend gemaak as enige koning in Israel voor hom.

’n Opsomming van Dawid se regeringstyd

26. Dawid, Isai se seun, het oor die hele Israel regeer.

27. Hy het 40 jaar lank in Israel regeer: sewe jaar uit Hebron en daarna vir 33 jaar uit Jerusalem.

28. Hy was oud toe hy dood is, nadat hy ’n lang lewe, welvaart en eer beleef het. Toe het sy seun Salomo hom opgevolg.

29. Al die gebeure van Dawid se regeringstyd is opgeskryf in Die herinnerings van Samuel die siener, Die herinnerings van Natan die profeet en die Herinnerings van Gad die siener.

30. Hierdie geskrifte beskryf sy magtige dade toe hy koning was. Dit handel oor alles wat met hom en met Israel en met die koninkryke rondom hulle gebeur het.